Bouwer van Rooyen saam met die Cantando@Algoa-koor.Foto:VERSKAF


DIE Cantando@Algoa-koor, onder leiding van Bouwer van Rooyen, is die hoof musiekdis op die NG Kerk Somerset–Oos se kerssangdiens wat op 18 November om 09:30 begin.

Vanaf 09:10 sal daar ’n orrelvoorspel wees en daarna volg die erediens vol lof en aanbidding. Jubelende gemeente- en koorsang sal verryk word deur orrel-, klavier-, trompet- en saagspel. ’n Acapella-groep van die Gill-Kollege sal ook aan die verrigtinge deelneem.

Van Rooyen is ’n ou bekende op Somerset-Oos aangesien hy in 1976 sy professionele loopbaan as onderwyser in biologie en landbouwetenskap by die Hoërskool Gill-Kollege begin het, in die NG Kerk orrel gespeel het en ’n suksesvolle kerkkoor op die been gebring het.

Van Rooyen is ’n getoë Oos-Kapenaar – gebore in Port Elizabeth, waarna hy aan die Hoërskool Pearson matrikuleer en sy grade en onderwysdiploma aan die Universiteit van Port Elizabeth verwerf het.

Hy het Somerset-Oos ná 4 jaar verlaat toe hy as dosent in biologie en later as departementshoof van wetenskappe by die destydse onderwyskollege in Graaff-Reinet aangestel is en waar hy sy vrou, Marilise Buijs, ontmoet het.

Uit hul huwelik is ’n dogter en drie seuns gebore. Later het die Van Rooyens na Bloemfontein verhuis waar hy as hoofonderwyskundige by die Vrystaatse Onderwysdepartement aangestel is.

Intussen het hy sy Algemene Toonkunstenaarskap en Kerkorrelistelisensiaat (UNISA), M.Ed (Vista) en diploma in Himnologie (IKSA) ook verwerf. Oor ’n tydperk van 42 jaar was Van Rooyen orrelis van verskeie NG gemeentes in Port Elizabeth, Somerset-Oos, Graaff-Reinet, Vereeniging en Bloemfontein.

In 1988 het hy die Cantando@Delta-koor in die Vaaldriehoek gestig, wat steeds bestaan en in 2009 het hy die Cantando@Bloem-koor in Bloemfontein gestig.

Dié koor het konserttoere na Gauteng, Oos-Vrystaat, Oos-Kaap, Namibië, Italië en Oostenryk onderneem.

Hy was vir 33 jaar lank betrokke by die bestuurstrukture van die SA Kerkorreliste-vereniging (SAKOV) en was van 2010 tot 2013 voorsitter van dié vereniging. Hy het verskeie toekennings vir sy bydrae tot die ontwikkeling en bevordering van kerkmusiek in SA ontvang.

Ná sy aftrede in 2015 het hy en sy vrou hulle in PE gevestig waar hy in April 2016 die Cantando@Algoa-koor gestig het. Die lede van die koor kom van so ver as Jeffreysbaai, Humansdorp, Despatch, Kenton-on-Sea en Fort Beaufort .

Die koor se repertorium sluit sekulêre sowel as gewyde werke in en bestaan tans uit 40 lede.

Hy het verskeie koorwerke van Afrikaanse teks voorsien – sy vertaling van Plea for Africa kan op You Tube as Pleidooi vir Afrika gehoor word. Hy tree steeds gereeld as konsert- en aflosorrelis op.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article