As jy vir Sanet Coetzer ontmoet sal jy gou besef sy doen agt dae se dinge in ’n week.
Sy en haar man Faan, het in 2011 Karoo toe getrek om tussen Cradock en Hofmeyr intensief met Dohne Merino’s te boer. Hulle werk saam, veral met die skape, en Sanet sê “Ons het niks van skaapboerdery geweet nie, maar ons vul mekaar goed aan.
“Ek is nie alleen ’n boer se vrou nie, ek is ’n boervrou wat hard op die plaas werk.”
Toe byt ’n jalapeno-gogga haar en sy besluit om dié lekker rissies te kweek, verwerk en produkte te bemark. Dit was eers net ’n gier, maar ná navorsing het sy besluit om sommer groot daarvoor in te gaan.
“Ek wou nie net nog ’n brandsous maak nie. Ek het met my ma en ouma se resepte begin eksperimenteer en het dit aangepas totdat ek, volgens my, die regte produkte kon lewer.
“En toe begin my eie besigheid wat ek ‘Karoovrou’ genoem net.”
Karoovrou produseer op die oomblik jalapeno-piekels in ’n sous wat ’n effense byt het, jalapeno-candy, wat baie gewild is, ’n chilli-maalvleis-sous met ’n ligte of medium byt (waaroor selfs kinders gaande is), jalapeno-pasta, jalapeno-poeier en ’n geroosterde-jalapeno-doopsous.
Sanet wil ook vroue wat van onthaal hou, maar min tyd vir voorbereiding het, help deur kompakte pakkies op te maak vir ’n keurige kaasbord. Dit sluit produkte in soos jalapeno-doopsous, makataan- en groenvyekonfyt asook ’n paar van haar ander lekker produkte.
“Dit pas goed, lyk mooi op ‘n kaasbord en smaak baie lekker,” sê Sanet.
Maar om met jalapenos te werk, is nie vir sissies nie. Die rissiedampe is so erg dat alles brand.
Die Karoovrou en haar helpers moet oorpakke, rubber én tuinhandskoene asook skermbrille dra wanneer hulle met die rissies werk.
Weens haar volgehoue produksie bied sy die ideale werkskepping-geleentheid vir plaaswerkers se vroue.
Haar produkte is 100% organies. Daar word nooit op die plante gespuit nie en slegs reste uit die lammerhokke word as grondbemesting gebruik.
Sanet se dogter, Anje, het onlangs getrou en Karoovrou het klein botteltjies produkte verpersoonlik met die bruid en bruidegom se voorletters daarop wat as geskenke aan gaste gegee is. Dit was baie gewild en kan dalk eersdaag in aanvraag wees.
Asof dit nie genoeg is vir ’n reeds baie bedrywige boervrou nie, is Sanet ook ’n agent vir Sernick Voere in die Oos-Kaap.
“Ek was baie geïntereseerd in ’n nuwe intensiewe skaapvoer wat Sernick bekend gestel het.
“En nou is ek hulle bemarker in die Oos-Kaap en moet wyd rondry om dié voerp rodukte te bemark en verkoop.”
Sy is ook ’n kranige tuinmaker, skilder ’n bietjie, maar is eintlik ’n verpleegsuster van beroep. Daarmee saam is sy sekretaresse van Hofmeyr se boerevereniging en op die koshuis- en bemarkingskomitees van die Marlow Landbouskool waar haar jongste seun ’n leerder is.



