GOUDMYNE by Cradock?
As jy meer wil weet oor die goudmyne rondom Cradock en die damme, tonnels en kanale van die Orangerivierprojek is daar nou ’n gulde geleentheid. Daar sal ook gesels word oor die poolreise van Ernest Shackleton en Robert Scott in die vroeë 1900’s.
Dié onderwerpe kom onder die soeklig op 12 September om 18:00 by Olive Schreiner-huismuseum in Kruisstraat op Cradock.
Stephen Mullineux, ’n voormalige ingenieur by die departement waterwese, het al drie die goudmyne in Cradock distrik besoek. Hy sal kortliks gesels oor die gouddelwerye in die Karoo tussen die jare 1890 en 1915.
“Ek het ook verskeie foto’s van die myne wat ek saam gaan bring vir die mense om te sien hoe dit gelyk het. Ek het ook geologiese inligting oor die gouderts wat in hierdie myne gevind is,” het Mullineux gesê.
Hy sal monsters van dié gouderts na die huismuseum bring, sodat belangstellendes die stukkies goud daarin kan sien.
Mullineux sal ook verduidelik waarom dit nie lonend was om goud in die hierdie Karoo-gebied te myn nie.
Oranjerivier-kanaalstelsel
Mullineux se tweede gespreksonderwerp is oor die uitleg van die Oranjerivier-projek.
Dié projek se doel is om Port Elizabeth en omgewing sowel as Grahamstad van water wat uit die Gariepdam vloei, te voorsien. Mullineux sal die kanaalstelsel tussen Gariepdam, al langs die Sondagsrivier tot in die Darlingtondam en dan tot by Addo en Port Elizabeth bespreek sowal as die kanaalstelsel vanuit die Gariepdam tot naby Grahamstad.
Die byeenkoms sal afgesluit word met die praatjie en fotos van Shackleton en Scott se reise na die Suidpool.
Na afloop van die gesprekke sal daar tyd wees vir vrae en besprekings.


