Die Hoërskool Cradock se wenspan.Photo:VERSKAF

DIE jaarlikse interskole tussen die Hoërskool Cradock en Gill-Kollege het op 26 en 27 Julie plaasgevind.

Dit was ’n spesiale geleentheid vir Gill aangesien dit hul 150ste bestaansjaarvieringe was.

Die verrigtinge het begin met oorwinnings vir CHS in kookkuns, redenaars, junior vasvra en tennis. Hulle het ook op gebied van muurbal, skaak, sang en gholf meegeding.

Simamkele Shweleni bekyk haar opsies tydens die eerste netbalspan se wedstryd teen Gill.Foto:VERSKAF

Saterdag se rugby-, netbal- en hokkiewedstryde was iets om te beleef.

Rugby was deur die o.14’s afgeskop. Hierdie wedstryd is deur Gil met 12-7 gewen.

CHS se o.15-span het hulle wedstryd 17-5 gewen, en kort daarna het die o.16’s hulle dit nagedoen deur as oorwinaars met 20-12 van die veld te stap. In die tweede span se wedstryd het Gill ’n goeie oorwinning van 29-12 behaal.

In die wedstryd tussen die eerste spanne het Gill-Kollege soos ’n stoomtrein afgeskop en binne die eerste paar minute oorgegaan vir ’n onverdoelde drie om met 5-0 voor te loop.

Teen rustyd was die telling weer 15-12 in CHS se guns. Die rolmaal het in die tweede helfte weer vrugte afgewerp vir die besoekers toe ’n verdoelde drie die telling op 22-12 te staan gebring het.

Die eindtelling was 27-24 ten gunste van CHS – die eerste oorwinning op Gill se tuisveld sedert 2011!

Op die netbalbaan het CHS met ses spanne teen Gill op Somerset-Oos kragte gemeet. CHS het twee wedstryde gewen, drie gelykop gespeel en een verloor.

CHS se eerste span het ná die eerste kwart met 5-4 agter geloop. Hulle het egter ’n beter tweede kwart gespeel en teen rustyd was die telling 10-6 in hul guns.

Gill het in die derde kwart goed gespeel en met 13-12 gelei aan die einde van die derde kwart. Die laaste kwart was weer baie gelykop en die wedstryd eindig met 15 doele elk.

In die o.19B-wedstryd het CHS ’n goeie oorwinning van 15-6 behaal. Die o.16A-spanne het ook gelykop met 11 doele elk gespeel. Die o.16B’s het ’n gerieflike oorwinning van 22-9 behaal. Die o.16C-span het met nege doele elk gelykop gespeel teen Gill se o.14-span. Gill was met 18 doele teen vier te sterk vir CHS se o.14A’s.

CHS se hokkiespanne het tydens die interskole puik hokkie gespeel. Die eerste en tweede spanne het in harde wedstryde die druk van interskole baie goed hanteer en albei wedstryde het gelykop geëindig. Die tweede span met ’n telling van 0-0, terwyl die eerste span met 2-2 geëindig het. CHS se seunshokkiespan het teen D.F. Malherbe gespeel en die wedstryd met 1-4 verloor.

Ruaan Fourie in aksie tydens die interskole-wedstryd.Foto:VERSKAF

’n Broodnodige blaaskansie tydens die hokkie-interskole.Foto:VERSKAF

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article