CRADOCK se Boksies vir Boervroue het behoorlik omgeeharte geraak en sewe groot bokse vanaf ondersteuners uit Boksburg het op die dorp aangekom.
Volgens Petra Breytenbach, organiseerder van die projek op Cradock, het sy ook navrae uit Johannesburg, Pretoria en KwaZulu- Natal gekry oor mense wat die projek wil ondersteun. Sy het egter dié mense na die VLV-Wellington verwys, wat oorspronklik met die projek begin het.
Cradock het die VLV-Wellington-projek ondersteun met ’n eerste besending van 41 boksies vol bederf vir boervroue in droogte geteisterde gebiede.
“Ons het besef dat daar mense in ons eie omgewing is wat net so swaar kry weens die droogte. Toe stel ons ’n mikpunt om 70 bokse vir 70 boervroue in Steytlerville-distrik by-mekaar te maak,” sê Petra.
Tot dusver het hulle al meer as 100 bokse ontvang en daar is besluit om die projek na boervroue in die Jansenville-distrik uit te brei. VLV-Hofmeyr het 19 bokse gestuur om by die Cradock-bokse gevoeg te word en daar is beloftes van nog mense wat bederfbokse gaan bydra.
Indien mense betrokke wil raak, maar nie ’n hele boks vol bederfgoed kan inpak nie, is daar afsetplekke op Cradock waar los items afgegee kan word.
- Vir meer inligting of om te hoor waar dié afsetplekke is, bel Petra Breytenbach op 082 445 4016.


