DIT het bontstaan gekos met die aflaai van ’n vrag vol Bokse vir Boervroue wat onlangs vanaf Wellington met ’n Shoprite/ Checkers vragmotor na Middelburg vervoer is.
Dié keer het vragmotorbestuurder Jannie Waterboer nie die gewone by die winkel kom aflaai nie, maar ’n veel kosbaarder vrag.
Die Wellington se Vrouelandbouvereniging-tak het met hul Bokse vir Boervroue-projek, 126 bokse vol bederfgoed aan boervroue van Middelburg, wat deur die vernietigende droogte geraak word, gestuur.
Volgens Juanita Loubser, voorsitter van Wellington VLV, hoop die organisasie dat elke boks ’n bietjie hoop sal bring vir boervroue en hul gesinne in die droogte geteistede gebiede van Suid- Afrika.
“Met hierdie spesifieke vrag het Shoprite/Checkers tot ons redding gekom. Vier-en-twintig palette met bokse is gelaai wat op verskeie Karoo-dorpe afgelaai is,” sê Loubser.
“Na dié vrag, is ongeveer 7 000 boervroue al bereik sedert die projek vanuit die Boland begin is.”
Boodskappe van dank stroom in na die Wellington VLV se Bokse vir Boervroue Facebook-blad. Een van dié boervroue van Middelburg skryf:
“Dankie, ek en my 2 kiddies (2 en 5 jaar oud) is besig om die drie bokse wat ons van Wellington VLV af gekry het oop te maak. Soos ons uitpak staan ek verstom. Hoe het hulle geweet ek moet koffie koop? Wie’t geweet ons Sunlight Liquid is gedaan? Ek staan in verwondering … elke liewe boks wat in hierdie land gepak en toegedraai word, is deur die Gees geinspireer!
Die droogte is swaar en moeilik en hartseer. Maar dit wat julle en vele ander doen lig só ons vroue se gees, dat ek nie meer bang is vir die droogte nie. Want dit wat ons gesin en ons land nou leer van mekaar en van omgee, het ewigheids-waarde. Dit skep hoop dat mens elke dag steeds die lewe wil leef en geduldig op die reën sal wag.
Wanneer ek hierdie items gebruik, sal ek bid vir die dames wat ons drie bokse gepak het. Dankie, dankie, dankie … vir al die moeite wat die dames in Wellington doen. Ons salueer julle! Baie liefde uit ’n dorre Karoo, maar ons gees vlieg op arendsvlerke. Die Botha’s van Middelburg, Oos-Kaap.”


