’n VLEIS-VIR-VERF kompetisie om geld in te samel sodat Hoërskool Middelburg se geboue opgeknap kan word, is onlangs geloods.
Deur ’n R50-kaartjie vir die skool se verfprojek te koop, het ondersteuners in aanmerking gekom vir vyf vleis- pakette. Van die geld wat deur dié kompetisie ingesamel is, sal aangewend word vir die verf van dakke.
Daar is reeds verskeie verbeterings aan die geboue en terrein tydens die jaar gedoen. Hiervoor het die skool verskeie komplimente van oud- Middies en ondersteuners, tydens die skool se Eeufeesvieringe ontvang.
Michelle Jeffries was die wenner van die eerste prys, ’n blesbok, skaap, springbok én braaiwors.
Carl Perry het die tweede prys, Niel Botha die derde, Martie Joubert die vierde en Hennie van Dyk die vyfde prys gewen.
Die leerders van die graad wat bygedra het tot die meeste kaartjie-verkope, het ’n uiteet by Die Kliphuis Restaurant op Middelburg gewen.
Elf van die graad 10B-leerders het met hul kaartjieverkope ’n bedrag van R15 100 ingesamel en hierdeur die lekker uiteet-aand verdien.
Die Kliphuis het op hul beurt die leerders nog meer bederf met ’n spyskaart so reg na die leerders se harte.
“Eet soveel soos julle wil en bederf julself met julle eie kombinasie van bestanddele!”
Dit is wat Helma Jansen van Vuuren, bestuurder van die restaurant vir die leerders gesê het na hul aankoms.
Die wenners het ingelê en heerlik ge-eet aan die verskillende “selfgemaakte” pizzas sowel as roomyskoeldranke en by die poeding tafel kon hulle hul eie wafels met stroopsoet versierings bou.




