DIE 36ste Visrivier Kanomarathon het vanjaar weer suksesvol verloop en daar word bereken dat dié sportgeleentheid ten minste R8 miljoen bykomende inkomste aan besighede van Cradock besorg het.

Volgens Michelle Marais van die Visrivier-kanoklub, was daar vanjaar 950 inskrywings, waarvan 900 roeiers in die Grasrugdam weggespring het.

Sy het namens die klub-bestuur hul waardering teenoor die lewensredders, wat elke jaar na die veilig-heid van roeiers omsien, oorgedra.

Volgens Marais het ’n K-3 wel by Keith’s Flyover in die moeilikheid beland en een van die ouer roeiers het sy kop teen ‘n klip gestamp.

’n Lewensredder het dadelik ingespring, hom uitgehaal en die nodige lewensredding-behandeling is toegepas.

“Ons is die lewensredders ewig dankbaar. Hulle is ervare en hul professionele en vinnige optrede het gesorg dat die Vis se veiligheids- rekord staande gebly het,” het Marais gesê.

Die Visrivier-Tennisklub het vanjaar piekniekkos aan besoekers by die Barodashoot-uitkykpunt voor- sien en sop by Knutsfordbrug.

“Van die roeiers hou só baie van dié sop, dat hulle met hul inskrywings vra of daar weer sop gaan wees,” sê Marais.

Die klubbestuur bedank ook CAT Motors wat soos vorige jare, bakkies beskikbaar gestel het om die pers en amptenare te vervoer.

“Ons werk is ook baie makliker gemaak deur Cradock Shell wat ’n spesiale rekening oopgemaak het sodat dié bakkies daar kon brandstof ingooi,” het Marais gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article