Die Fort Beaufort skrywer wat ook korrespondent vir Media 24 en Komani-Karoo Express is, verskyn hierdie week op kykNET se geselsprogram ‘KLOP’ op DStv-kanaal 145.
Nolan Venter, wat reeds sedert 2009 vir Die Burger rubrieke skryf, het ’n totaal van 170 rubrieke in ’n bundel met die titel Klippies in my kinderskoene saamgevat.
Die bundel is verlede jaar uitgegee en bevat stories uit Venter se kinderdae, maar van die verhale handel ook oor gestorwe helde soos Nico Carstens, Clive Rice, Adam Small, die ontslape sanger Ricardo en vele ander.
Venter is ’n bekende op skrywersgebied en was onder meer die korrespondent vir die Fort Beaufort Advocate, Mid-Karoo Express en ander streekskoerante.
Volgens die 62-jarige Venter was die televisie-onderhoud vir hom ’n onvergeetlike ondervinding.
“Dit het my besonder trots laat voel om dié erkenning te kry.”
Klippies in my kinderskoene is Venter se derde boek. Die bekende skrywer Dana Snyman het ook sy stempel op die boek geplaas. Venter het ook ’n digbundel Dood van ’n Engel asook ’n kort roman Om ’n kind te verloor geskryf. Van Venter se kortverhale het in die Huisgenoot verskyn.
“Soos baie ander skrywers publiseer en bemark ek my boeke self,” sê Venter.
- Die geselsprogram op kykNET (DStv-kanaal 145) is vannaand om 20:30, sowel as Sondagaand om 19:30 te sien.


