’n Tienjarige meisie van Fort Beaufort wat die afgelope twee jaar ’n moedige stryd teen kanker geveg het, is op 14 Oktober oorlede.
Zoey Steward was ’n graad 4-leerling aan die Fort Beaufort Primêre skool.
Haar ouers, Valda Steward en Rowan Arends sowel as haar skool en die ganse gemeenskap van die woonbuurt Newtown is in rou gedompel deur Zoey se heengaan.
“Zoey was ’n lewende engel, sy het altyd ander kinders en mense se belange op die hart gedra. Sy kon baie gou sien as dinge nie reg was nie en wou dan altyd help,” het haar bedroefde ouers aan Komani- Karoo Express gesê.
Luidens Brenda Ward, ’n tante van Zoey se pa, is sy ’n paar jaar gelede met ’n kwaadaardige gewas op die brein gediagnoseer.
Zoey het die afgelope twee jaar verskeie kere na onderskeidelik die Beacon Bay-hospitaal in Oos-Londen sowel as die Rooikruis-hospitaal in Kaapstad vir ope-rasies gegaan.
“Sy kon so mooi na haar jonger boetie Radin omsien, en was haar ouma en oupagrootjie se oogappel. Ons het so gehoop en hard gebid vir haar herstel,” het Ward gesê.
Zoey word hierdie Saterdag om 11:00 vanuit die Katolieke kerk op Fort Beaufort ter ruste gelê na afloop van ’n troosdiens by die Arends-woning by Proteastraat 69 om 10:00.




