Elana Alberts van Middelburg in aksie op die tennisbaan. Foto:JOHANETTE PHOTOGRAPHY


OM as ’n top veteraan-tennisspeler van Suid-Afrika die land internasionaal te gaan verteenwoordig, verg verseker goeie talent, uithouvermoë, konsentrasie, fiksheid en ure en ure op die tennisbaan.

Hierdie titel is Elana Alberts van Middelburg se eer en Grootfontein Landboukollege – waar sy werksaam is – tesame met die Middelburg-gemeenskap, is werklik trots op haar.

Elana is die nommer drie tennisspeler van die Suid-Afrikaanse W60+ veterane-tennisspan wat vanaf 4 tot 10 Augustus in Portugal aan die wêreldkampioenskapsbyeenkoms gaan meeding.

Vanaf 11 tot 16 Augustus ding sy ook mee in die individuele kategerie van die wêreldkampioenskappe in Portugal. Verder is sy ook die kaptein van die vrouespan.

Sedert sy vier jaar oud is, wou Elana baie graag tennis speel. Nadat sy haar ma, Elsie Meyburgh, mooi gevra het vir ’n raket, het sy vir eers teen die muur begin slaan. Van daar was daar min wat haar kon keer en het sy spoedig ’n ikoon op die tennisbaan geword.

Tydens haar skoolloopbaan by die Primêre Skool Karel Theron en by die Hoërskool Middelburg was Elana permanent bo-aan die skool se ranglys.

Sy het in gr. 8 gevorder tot by die nommer een tennisspeler vir die skool en die posisie gehandhaaf tot die einde van haar skoolloopbaan.

Een van haar hoogtepunte in haar matriekjaar was toe Middies se meisies-tennisspan vir Oranje Meisieskool en Kovsies se eerste spanne in Bloemfontein geklop het.

Tennis vloei dik in haar are en is dit nie maklik om haar op ’n tennisbaan te daag nie, aangesien sy reeds sedert 1990 teen die top tennisspelers van Suid-Afrika meeding. In 1991 het sy vir OP Platteland begin speel en vanaf 1995 speel Elana vir die OP veterane (seniors) tennisspan.

In 2015 het sy vir die eerste keer as deel van die Suid-Afrikaanse span na Frankryk getoer toe sy deel was van die Vroue 55+ tennisspan.

Hierdie SA-span het sewende tydens die toernooi, waar 21 lande deelgeneem het, geëindig. In 2016 en 2017 het Elana ook vir die SA-span gekwalifiseer om na Amerika te kon, maar haarself nie beskikbaar gestel nie.

Sy verkies om liewer in Europa op die rooi kleibane te gaan deelneem.

In 2018 het sy saam met die internasionale klub van Suid-Afrika na Italië en Monaco gereis waar sy Suid-Afrika se veterane- span verteenwoordig het.

In Rome tydens die Italiaanse Ope, het sy die voorreg gehad om bekendes soos Novak Djokovic, Naomi Osaka, Venus Williams en Juan Martín del Potro in lewende lywe te kon sien speel.

Tennis vloei dik in haar are en is dit nie maklik om haar op ’n tennisbaan te daag nie

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article