MOTORHANDELAARS op Cradock sit met hul hande in die hare oor die gebrek aan diens by die plaaslike verkeersafdeling.
Die afdeling, wat na verneem word al sedert verlede jaar probleme veroorsaak, het blykbaar nou heeltemaal in mekaar gestort omdat sekere amptenars op siekverlof is en geen dienste gelewer kan word nie.
Volgens Jacques Jordaan van CAT Motors betaal banke nie handelaars uit vir voertuie voor hierdie voertuie geregistreer is nie.
“Hierdie probleem kom al ’n baie lang tyd aan en is baie sleg vir besigheid,” het hy gesê.
Antoinette Joubert van JW Auto sê hulle is bekommerd oor die slegte naam wat hul firma nou onder voorheen tevrede kliënte mag kry. Sy het vertel van ’n kliënt van Dubai wat een van hul spogmotors gekoop het en spesiaal ingevlieg het Port Elizabeth toe om dokumente te teken en die motor in ontvangs te neem.
“Ons aantal tydelike permitte was teen daar-die tyd al almal in gebruik en geen ander handelaar kon ons uithelp nie. Ons het toe maar ’n kans gewaag en die motor Port Elizabeth toe geneem sodat die kliënt na George kon ry om die motor te registreer.
“Hy is langs die pad deur polisie afgetrek en het amper in die tronk beland,” het sy vertel.
Sy twyfel of dié kliënt weer by hulle gaan aanklop.
Xolela Msweli, munisipale bestuurder van Inxuba Yethemba-munisipaliteit, het in ’n boodskap op sosiale media gesê dat Roland Hare van die verkeersdepartement tot 21 Junie op siekverlof sal wees. Lloyd Mkonto, ook van dieselfde kantoor, sal egter Maandag weer aan diens wees ná ’n week wat geen toetse of lisensies in Cradock gedoen of uitgereik kon word nie.
Aangesien Hare die enigste persoon is wat voornemende bestuurders kan uitpasseer, sal geen toetse tot aan die einde van Junie in Cradock of Middelburg gedoen kan word nie.
Kommer word ook uitgespreek oor die voortbestaan van mense wat bestuurslesse gee. Hulle word nie betaal voor die kliënt sy toets geslaag het nie.
Lloyd Mkonto sal as hoof van beskermings- dienste waarneem tot tyd en wyl Hare weer op sy pos is.
