WAT maak jy as jy ’n dagoud kuiken by iemand kry?
Lisbé Erasmus, dierebeskerm-engel van Somerset-Oos, wéét hoe om kuikens groot te maak en hoe om diere te versorg.
Sy vat die kuiken met baie liefde en versigtigheid en bêre dit waar dit warm en veilig is, voor in haar rok.
Jare gelede toe Lisbé uit haar eie met hierdie groot liefdestaak begin het, het sy nie geweet hoe sy kos vir al die diere sou kry nie. Tog het sy nooit ’n dier wat by haar aangebring is weggewys nie, maar altyd ingeneem en versorg.
Gelukkig help haar twee ge-stremde seuns, Neil en Derryck, al te graag. So-ook haar man, wat Lisbé se liefde vir diere deel.
Finansieël gaan dinge nie altyd goed nie.
“Ek is nie skaam om dit te sê nie. My pensioen gaan net so vir die diere. Ek kan nie anders nie, ek is te lief vir diere en hulle moet ordentlik versorg word,” sê Lisbé.
Sy hou maandeliks ’n markdag waar sy allerlei artikels verkoop. Dié fondse gaan reguit diere toe.
Tans kan lootjies gekoop word om ’n gebreide pop, wat sy by ’n vrou van Cookhouse gekry het, te wen. Dié looitjiegeld gaan ook reguit diere toe.
Lisbé se groot bekommernis is dat daar te veel mense is wat nie hulle diere ordentlik versorg nie.
“Ek het meer probleme met dié mense as met diere,” sê Lisbé.
Somersetters is haar goedgesind en vol lof vir haar omgee vir diere. Daarom kry sy gereeld skenkings en donasies.
Hulle weet ook dat as sy hoor van verwaarloosde, mishandelde of siek diere, gaan sy hulle red óf toesien dat die eienaars beter sorg vir hulle diere.
Toe sy onlangs gehoor het van ’n aap wat in die boud geskiet is met ’n .22-geweer, het sy dadelik opgetree. Sy het die aap veearts toe geneem vir behandeling.
Sonder die veeartse, met wie sy ’n goeie verstandhouding het, sou sy nooit soveel diere kon red nie.
Hulle is altyd bereid om te help, ook wanneer dit kom by inentings en ontwurming.
’n Mishandelde, ondervoede hond met ’n seerplek op die boud is kort ná die aap-insident na Lisbé gebring. Sy het weereens dadelik begin met haar liefde-volle versorging en behandeling.
Spoedig het die hond se wond begin genees en het hy ’n gedaanteverwisseling ondergaan.
Wanneer dit kom by aannemings van geliefde dierekinders wat Lisbé ingeneem en versorg het, is sy hartseer, maar bly.
“Ek mis hulle vreeslik, maar is baie bly dat hulle goeie huise kry,” sê Lisbé.



