Die Kinderbeskermingsweek-veldtog is plaaslik deur Cradock SA Kindersorg geloods. Hier verskyn een van die aanbieders. Foto:VERSKAF


VERSKEIE kinders word daagliks aan mishandeling blootgestel wat ’n enorme impak op hulle menswees kan hê.

Die gebrek aan emosionele aanvaarding en die gevoel van “ek behoort” tesame met fisiese en seksuele mishandeling waaraan kinders blootgestel word, kan ’n kind se siel verpletter.

“Die Kinderbeskermingsweek-veldtog is plaaslik deur Cradock SA Kindersorg geloods en ’n program is aan die gr. 3- en 4-leerders van die Carinus Primêre Skool aangebied om hul bewus te maak van seksuele mishandeling – wat baie keer ’n moeilike onderwerp vir kinders is, veral as mense wie hul vertrou hul molesteer. ’n Video was aan leerders gewys, gevolg deur ’n interaktiewe aanbieding,” het Elize Jagers van Cradock Kindersorg gesê.

’n Ouerskap-program is ook aan ouers aangebied oor hierdie onderwerp om hul te bemagtig sodat hul kinders veilig kan wees.

Die aanbieders tydens die veldtog was maatskaplike werkers, Elize Jagers, Yolanda Felix en maatskaplike hulpwerker Karen Tromp.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article