TROETELPAKKIES vir boervroue, ge-stuur deur die VLV van Wellington, het verlede Woensdag met ’n reuse Shoprite vragmotor op Cradock aangekom.
Daar was groot opgewondenheid toe die 81 pakkies in ontvangs geneem is en nog groter opgewondenheid toe hulle, gemerk met individuele vroue se name, in die verskillende plaaswyke afgelewer is.
Volgens Zimkitha Mabanga, Shoprite se woordvoerder, is die aflewering van die pakkies maar een van Shoprite se baie pogings om die droogte te help verlig. Sy sê met hierdie aflewering het Shoprite 1 827 pakkies in Wellington gaan oplaai om dit in tien verskillende dorpe insluitend Laingsburg, Beaufort-Wes, Graaff-Reinet, Cradock en Jansenville te gaan aflaai.
Die projek om troetelpakkies vir boervroue in die droogte geteisterde gebiede in te samel, was ’n baie suksesvolle projek van Wellington se VLV wat uiteindelik glo meer as 10 000 pakkies gehad het om uit te deel.
Die gemeenskap van Cradock het ook troetelpakkies ingesamel wat hulle aan boervroue in Bedford en Steytlerville se distrikte geskenk het.
Die plaaslike organiseerders het besluit om met die troetelpakkie se projek aan te gaan en pakkies vir mindebevoorregtes in die gemeenskap te skenk.


