’n OUDSKOLIER van die Hoërskool Cradock wat uitblink in bykans enige sport-soort, is genooi om in Egipte aan ’n vyfkamp-oefenkamp deel te neem.
Gareth Vorster, wat op 4 April vanjaar mondig word, staan ná hierdie oefenkamp ’n kans om te kwalifiseer om Afrika by die 2020 spele in Tokyo te verteenwoordig.
Vir die moderne vyfkamp moet deelnemers 200m vryslag swem, pistoolskiet, perd-spring met ’n perd wat eers 20 minute voor deelname aan hom uitgewys word; en skerm, wat die enigste item is waar atlete vir een minuut elk direk teenoor al die ander deelnemers veg.
Die kompetisie word met ’n drie kilometer veldwedloop afgesluit.
Vorster is ’n student aan Nelson Mandela-universiteit (NMU) en het onlangs gekwalifiseer om aan die 100 meter-rugslag by die Suid-Afrikaanse jeug nasionale kampioenskapsbyeenkoms, asook aan die senior Suid-Afrikaanse kampioenskapsbyeenkoms in die 50 meter-rugslag deel te neem.
Gareth het onlangs ook by die interpro-vinsiale tweekamp-kompetisie vir senior mans in Port Elizabeth ’n puntetotaal van 2 252 behaal en daarmee die Suid-Afrikaanse rekord verbeter.
Hy het reeds na Egipte vertrek en neem tussen 2 en 25 Februarie aan die oefenkamp, wat op 23 Februarie met die individuele finale kompetisie endig, deel.
Deelnemers gaan in die Hotel Tolip in Kaïro tuis en vertrek weer op 4 Maart terug Suid-Afrika toe.




