GRAAFF-Reinet se beskermde werkplek, Boundless, het vanaf verlede Donderdag ’n nuwe winkel waar hul ware te koop aangebied word in die hartjie van die dorp.

Carmen Isaacs en Herman van Rooyen het Donderdag 18 April gespog met van die pragtige items wat in Boundless se nuwe winkel by die Karoo Community Church te koop aangebied word. Foto:ELSABÉ PIENAAR

Gebruiksartikels, klere en geskenke en speelgoed wat deur dié werkplek vervaardig word, kan nou gerieflik aangekoop word by die Karoo Community Church op die hoek van Somerset- en Bourkestraat.

Boundless bied geleentheid aan mense met fisiese, sielkundige of verstandelike uitdagings wat nie in die ope arbeidsmark kan kompeteer nie, om te werk en te leer. Die lewensgehalte, selfbeeld en waardesisteem van hierdie individue word verbeter deur fisiese en sielkundige sorg, terwyl hulle lewensvaardighede aanleer tesame met vaar-dighede wat ’n inkomste kan genereer.

Die nuwe winkel is iets besonders om te besoek: daar is, onder meer, pragtige oorvou-rompe en voorskote, kombuisvatlappies en mooi versierde dagboeke, matte kunstig gemaak uit oorskietlap, houtspeelgoed en lasergesnyde houtwerk. Die span van Boundless bied dienste aan, soos die afskuur en restourasie van houtartikels, en doen laser-uitsnywerk van enige aard.

Boundless bedryf ook ’n oulike kwekery. Besoek die nuwe winkel by Karoo Community Church Maandag tot Vrydag 08:00 tot 17:00 en Saterdae 09:00 tot 13:00 of kontak hulle by 049 892 3244.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article