DIE bestuurder van die OK-meubelwinkel op Graaff-Reinet het die polisie verlede Donderdagmiddag ontbied nadat hulle omstreeks 14:20 ’n bomdreigement tydens ’n anonieme oproep ontvang het.

Volgens polisiewoordvoerder ao. Wessel Cronjé het die na-bygeleë Herholdts ’n soortgelyke oproep van vermoedelik ’n man ontvang.

Die polisie en plaaslike brandweer het onmiddellik ’n gedeelte van Caledonstraat naby die Groot Kerk afgesper, en personeel en klante uit omliggende winkels ontruim. ’n Polisiehond van die plaaslike honde-eenheid, wat spesialiseer in die opsporing van plofstof, het die omgewing deursoek, maar geen plofstof opgespoor nie.

Die polisie se bomeenheid is uit Port Elizabeth ontbied en het ’n aantal persele gefynkam, maar ook húl ondersoek het geen resultate opgelewer nie.

Caledonstraat was Donderdag buitengewoon besig vanweë die opening van die nuwe Ackermans-tak in die dorp en die polisie se taak is bemoeilik deur nuuskierige omstanders wat nie hul samewerking wou gee deur die ge-vaargebied behoorlik te ontruim nie. Op die vraag of die polisie al enige leidrade kon vind, het Cronjé gesê “’n saak is geopen en die ondersoek duur voort. ’n Vals bomdreigement word in ’n uiters ernstige lig beskou, en dit is ál wat ons in hierdie stadium kan onthul.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article