DIE Bokse vir ’n Boervrou-projek is met mag en mening aangegryp deur Cradock se Gemeenskapsprojek en die eerste 41 bokse is reeds verlede Vrydag na Oudsthoorn gestuur.
Die Gemeenskapsprojek wat reeds groot sukses met skoonmaakaksies op Cradock behaal het, reik ook wyd uit om hulp aan mense in nood te verleen.
Die Bokse vir ‘n Boervrou-projek, wat tot einde Oktober gehou word, is ‘n projek van ’n VLV-tak in die Wes-Kaap wat besorgd is oor die nood van boervroue in droogtegeteisterde gebiede.
Met die projek vra hulle dat mense bokse vol verrassings vir boervroue wat lankal nie meer geld het om vir hulself luukses te koop nie, in of ’n skoenboks of ‘n wynboks te verpak. Hulle stel eetgoed, wasmiddels, koffie, kondensmelk, toiletware, tydskrifte en lekkers voor, maar skenkers is vry om items van hul eie keuses in te pak. Instruksies is dat die bokse in koerantpapier toegedraai en met ’n mooi lint versier moet word.
Cradock se vrag verrassings, wat binne twee dae ingesamel is, is verlede Vrydag deur Dries en Retha Trollip, wat aan die Meiringspoort-marathon gaan deelneem het, na Oudtshoorn geneem. VLV-vroue sal van daar sal sorg dat die bokse op 3 November ge-reed is om saam met vragte veevoer vir droogtehulp na boere se vroue versprei word.
Volgens die Cradock organiseerders is daar nog baie mense wat bydraes wil lewer vir die projek. Daarom is hulle nou van voorneme om die volgende besending na boervroue in die droogtegeteisterde gebiede van Graaff Reinet, Jansenville en Steytlerville te stuur.
Motorfietsryers van Cradock en Middelburg het gesê dat hulle ook bydraes gaan maak.
- Enige belangstellendes wat bydraes wil maak, kan Petra Breitenbach bel by 082 445 4016.



