ALLE paaie gaan eerskomende Saterdag na Michausdal Primêr op Cradock lei, wanneer ’n paar bekende sepie-akteurs, waaronder 7de Laan se Vince (Jacques Blignaut), die skool besoek.
Volgens ’n woordvoerder van die skool gaan Quinne Huffman, Wayne van Rooyen, Grevon Jacobs, Blignaut en nog ’n paar ander saam by die skool se Familiedag kuier.
Die dag se verrigtinge begin reeds om 07:00 en kaartjies wat vooraf gekoop kan word is R50 per persoon. Laatslapers wat eers by die hek kom kaartjies koop sal R70 elk betaal.
Die fokus van die dag is om met die kinders en hulle ouers te gesels oor die gevare van dwelmgebruik en die vernietiging van lewens weens dié toenemende sosiale euwel. Daar sal ook gefokus word op ouers om hul verantwoordelikhede teenoor hulle kinders ernstig op te neem om gemeenskappe weer op te hou.
Die akteurs gaan die besoekers aan die skool se Familiedag vermaak met dans, sang en drama-opvoerings. Daar sal ook geleentheid wees om gesellig met hulle te verkeer en hulle handtekeninge te kry.


