Roei was een van die aktiwiteite waaraan die laerskoolkinders by die Boknes PD-kamp deelgeneem het. Foto:VERSKAF


ONLANGS het 75 laerskoolkinders van regoor die Oos-Kaap op die Boknes Voortrekkerterrein vir die Penkoppe en Drawwers-kamp toegesak.

Ná die afpak en slaapplekke gekry is, is daar onmiddellik, onder leiding van die Kommandoleier, Nig Lizan Burger, met die program begin.

Kentekens waarvoor gewerk is in die program, was gr. 0 – 2 = spele; gr. 3 = toeka; gr. 4 = noodhulp en seekennis; gr. 5 = roeikuns en Boeresport; gr. 6 = sterrekunde en redding en gr. 7 = kamplewe.


Die volgende Penkoppe en Drawwertjies van Somerset-Oos het hul kentekens ontvang:

Nianke Kapp – gr. 2

Chad Lombard – gr. 2

Enrico Harding – gr. 5

Christiaan Kapp – gr. 5

Tenell Harding – gr. 7

Die eerste aand is die opwindende nagmars gehou, wat op die seerowertema gegrond was. By elke punt wat die Voortrekkertjies ontsyfer het, het hulle ’n deel van hulle seerowermondering ontvang.

Die kampvuurkonsert het gesorg vir baie pret en is in die nuwe boma wat op die terrein aangebring is, gehou. Nuwe offisiere is ook by die geleentheid met die gewilde “Kerrie-Jam” ingelyf.

Elke aand was die dag met heerlike warm sjokolade en tuisgebakte koekies afgesluit. Die kombuistannie het die koekies gebak en ook volgens die seerowertema versier.

Op die voorlaaste aand het die offisiere ’n prysuitdeling gehou.

Hier word die blapse wat op die kamp begaan is met almal gedeel en lekker daaroor gelag.

Afhangende van hoe hard jy jou “naam met ’n plank geslaan het”, is deur die hoofseerower besluit of jy die plank moet loop en of jy moet roei om toiletpapier te gaan koop, aangesien die voorraad voor die tyd opgeraak het.

Die laaste dag het ’n baie sterk wind opgesteek en is die boeresport wat gewoonlik op die strand gehou word, in die beskutting van die kampterrein gehou.

Getrou aan die leuse van die kamp “Alles wat ons doen, doen ons vir die kinders” was die Boknes PD-kamp ’n onvergeetlike ervaring en almal het met baie goeie herinneringe, wat hulle vir die res van hul lewe sal koester, huis toe vertrek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article