LEERDERS en personeel van die Laerskool Cradock het verlede week met ’n saalbyeenkoms spontaan begin hande klap toe die skoolhoof, Marietjie Maré, aangekondig het dat hulle ’n skenking van R10 000 ontvang het.
Die skenkers is Irvin Tam van Tam Safaris en Mike Murray van African Field Safaris, albei van die Cradock-distrik. Die jagplaaseienaars hou jaarliks ’n gala-dinee en veiling om geld vir verdienstelike instansies in te samel.
Hulle funksioneer onder die vaandel van die Amy Bell-stigting wat genoem is na die dogter van ’n gesin van Amerika wat baie by die Tam’s kom jag het, voor Amy op ’n jong ouderdom tragies gesterf het.
Vogens Maré sal die skenking goed spandeer en aangewend word tot voordeel van die skool, leerders, personeel en ouers.
“Ons het ook reeds besluit om ’n ver- dienstelike leerling van die skool wat vanjaar hoërskool toe gaan, te borg met ’n eenmalige beurs wat haar skoolgeld vir die jaar sal be-taal,” het Maré verduidelik.
Om alles te kroon was Tam so beïndruk met die kinders se dissipline dat hy tydens die oorhandiging spontaan nog R5 000 by die skenking gevoeg het.




