DIE eerste vier tennisspelers van die Hoër Landbouskool Marlow het die afgelope na-week aan die 11de Merriefield-tennistoernooi in Oos-Londen deelgeneem en uitste-kend gevaar.
Die toernooi is op die bane van Selborne Park gespeel en dit was die eerste keer dat Marlow aan hierdie toernooi deelgeneem het.
Behalwe Marlow, het Selborne College, Kingswood College, Merriefield College en die Hoërskool Grens ook aan die toernooi deelgeneem.
In die eerste wedstryd het Marlow Vrydagmiddag teen die gasheerskool te staan gekom. Marlow het drie van die vier enkels gewen, asook een van die dubbels om hul opponente met 4-2 te klop. Saterdag het Marlow teen die verdedigende kampioene, Selborne, te staan gekom en in ’n taai kragmeting het albei skole drie wedstryde gewen. Daarna het Marlow teen Grens gespeel en hul maklik met vyf wedstryde teenoor een geklop. Die laaste wedstryd was teen Kingswood en ook hier het Marlow maklik met 6-0 gewen.
Marlow en Selborne was aan die einde van die toernooi onoorwonne, maar Selborne het meer stelle verower en is dus as die wenners van die toernooi aangewys, met Marlow in die tweede plek. Merriefield was derde, Kingswood vierde en Grens vyfde.
Gideon Smith het uitstaande tennis ge-speel en al sy enkelwedstryde gewen. Hy is dan ook as die speler met die beste sportmansgees aangewys.



