DIE Hoër Volkskool se eerste tennisspan het onlangs aan die Tennis4Jesus-toernooi in Bredasdorp deelgeneem.
Die toernooi het oor twee dae gestrek en Volkskool se spelers het baie goed gevaar. Hulle het op die eerste dag teen die Hoërskool Dirkie Uys van Moorreesburg gespeel en die wedstryd 32-19 gewen. Daarna het hulle teen die Hoërskool Hermanus gespeel en dié wedstryd ook maklik met 39-12 beklink.
Hulle speel toe die wedstryd van hulle lewe teen die Hoërskool Strand wat hulle met ’n bulderende 47-4 gewen het.
Die volgende dag het Volkskool in die semifinale rondte teen Langenhoven Gimnasium van Oudtshoorn gespeel en gemaklik na die finale rondte met ’n telling van 39-12 deurgedring.
In die finaal het hulle te staan gekom teen die Hoërskool Framesby van Port Elizabeth. Senuwees het geknaag en die druk was hoog, maar gelukkig het Volkskool se spelers genoeg ondervinding om koppe bymekaar te hou en die wedstryd 39-12, en dus ook die toernooi, te wen.


