By die AGS-kerk op Fort Beaufort is daar al drie maal ingebreek. Foto: NOLAN VENTER

DIE gemeenskap van Fort Beaufort is só onder beleg van misdadigers dat bykans geen besigheid of private huishouding dit meer kan waag om sonder diefwering of ’n betroubare alarmstelsel te wees nie.

Selfs kerke loop deesdae deur.

Inbrekers gaan sover as om deur die dak toegang tot wonings te verkry. Hoekslypers word gebruik om kluise in private wonings oop te breek.

In die middedorp word besighede gereeld geteiken.

Getraumatiseerde werkers van verskeie besighede op die dorp het aan Mid-Karoo Express vertel dat hulle nie meer veilig in hul werkplek voel nie.

In ’n gewapende rooftog voorverlede Donderdag is ’n geldwa by ’n plaaslike groothandelaar geroof. Die rowers het met ’n onbekende bedrag geld weggekom. ’n Heen-en-weer skietery tussen die rowers en lede van ’n plaaslike sekuriteitsmaatskappy het gevolg. Niemand is in die voorval beseer nie.

Verskeie kerke loop ook onder inbrake deur. Daar is onlangs by die Rooms Katolieke kerk ingebreek en duur klanktoerusting is weggedra. Ook die St. John’s kerk in Durbanstraat het deurgeloop.

By die AGS-kerk op die dorp is daar reeds drie maal ingebreek.

Luidens die kerk se jeugleier, Martin Hatting, moes ’n skuifdeur van die kerk wat onlangs stukkend gebreek is, met bakstene toegebou word.

Intussen het die polisie mense wat inkopies doen gewaarsku om nie waardevolle items agter op hul voertuie of in voertuie wat nie gesluit is te laat nie, omdat daar booswigte rondloop wat op soek is na ’n maklike geleentheid om te steel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article