’n OPLETTENDE inwoner van Graaff-Reinet het Sondag ’n gesteelde spaarwiel by drie “karwagte” afgeneem nadat hulle dit tydens die NG Grootkerk se erediens gebuit het.

Fred Holtzhausen het gesê hy was op pad om ’n familielid te besoek toe hy die verdagtes met die wiel in hul besit opgemerk het. Minstens een van hulle ’n karwagbaadjie aangehad.

“Die verdagtes het in Napierstraat opgestap en dit was vir my vreemd om hulle met ’n wiel in die hand te sien loop.”

Karwagte het blykbaar dié wiel by Graaff-Reinet NG Grootkerk gesteel. Foto:VERSKAF

Holtzhausen het gesê sy swaer, Patrick Goldz, het op daardie oomblik self kom kyk wat aangaan, aangesien Goldz se honde aggressief begin blaf het. Die verdagtes het begin weghardloop voordat Holtzhausen en Goldz hulle genader het, wat Holtzhausen se vermoede bevestig het dat hulle die wiel gesteel het.

“Twee van hulle het weggekom, en hulle het hul maat met die wiel alleen agtergelaat. Ons kon daarin slaag om hom voor te keer en te ondervra. Hy het erken dat die spaarwiel van onder ’n voertuig naby die NG Grootkerk gesteel is, maar wou nie toelaat dat ek hom afneem nie, en hy het weggeglip.”

Volgens Holtzhausen het die verdagte beweer dat nie hy nie, maar sy twee makkers vir die diefstal verantwoordelik was. Holtzhausen sê hulle het afgery kerk toe en ná ondervraging van ander karwagte is bevestig dat drie verdagtes by ’n motor gepeuter het.

Die eienaar van die voertuig, wat gevra het om anoniem te bly, sê hy het nie dadelik ná kerk agtergekom sy spaarwiel is gesteel nie.

“Ek het Sondag ’n bietjie verder as gewoonlik van die kerk af stilgehou, en toe ’n karwag my nader en vra of hy my voertuig kon dophou, het ek ingestem. Ná kerk het ek niksvermoedend weggery, want mens kyk mos nie elke keer onder jou voertuig of jou spaarwiel nog daar is nie.”

Volgens die eienaar het ooggetuies hom egter voorgekeer en van die diefstal in kennis gestel.

“Graaff-Reinet is gelukkig klein – ek is dankbaar dat die spaarwiel teruggevind is en dat ek dit by Fred se huis kon gaan afhaal.”

Volgens Michelle Erasmus van die Graaff-Reinet Belastingbetalersvereniging (GRRPA) verbreek karwagte heelwat munisipale bywette en verkeersreëls, soos om motoriste in parkeerplekke in te beduie.

“Ons is nie ten gunste daarvan dat motoriste karwagte met fooitjies beloon nie. Beyers Naudé munisipaliteit moes lankal ’n parkeerstelsel in plek gesit het waarmee inkomste vir die munisipaliteit geskep kan word.

“Dit sal die onnodige intimidasie van motoriste deur karwagte stopsit,” het Erasmus gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article