BAREND la Grange, hoof uitvoerende beampte van African Day, ’n organisasie wat hom beywer om die verval van plattelandse dorpe tee te werk, het Cradock verlede week op uitnodiging van die groep Cradock Gemeenskap besoek.

Werkers wat privaat aangestel is, maak skoon in Cr

Werkers wat privaat aangestel is, maak skoon in Cradock. Foto: VERSKAF

Volgens La Grange is Cradock die eerste dorp in die Oos-Kaap waarmee African Day kontak maak. Hy het Cradock Gemeenskap geluk gewens met alles wat hulle reeds vermag het met hul waterstelsel, die vullis-stortterrein, opvul van slaggate en algemene opruiming van vullis in die dorp. Hy was ook beïndruk met al die nuwe vullisdromme wat op strategiese plekke geplaas is.

La Grange sê as inwoners hul eie dorpe skoonmaak en verfraai sal dit oorspoel na buurdorpe wat dan weer toeriste sal aanmoedig om Suid-Afrika te besoek.

Volgens hom was Coligny die eerste dorp waarby Africa Day betrokke geraak het. Die dorp se infrastruktuur was volgens hom tot niet, rommel het in die strate gelê en moord, opstande en brande was aan die orde van die dag.

Nadat hulle al die inwoners aangemoedig het om die dorpie skoon te maak, het almal saamgewerk en hou hulle nou vol met die proses.

“Dit is nie die politici wat dit doen nie, maar inwoners self. Ons kan die politici kritiseer vir hul laksheid maar mens kry baie meer verrig as jy hulle samewerking kan kry,” het hy gesê.

Volgens La Grange is dit ook belangrik dat die onderskeie woonbuurte se mense moet saamwerk.

“Dit help ook vir werkloosheid en as jou dorp nie mooi en netjies is nie, sal niemand dit wil besoek nie.

“Cradock behoort aan sy inwoners en julle is die mense wat verandering moet bewerkstellig. As elkeen voor sy eie deur skoonmaak sal dit al baie help,” het hy gesê.

Lou Venter, sakeman van Cradock het ’n paar maande gelede die selfoongroep, Cradock Gemeenskap, gevorm in ’n poging om die verval van Cradock se infrastruktuur te stuit. Hy word goed ondersteun en die inwoners op die groep lewer reeds ’n groot aandeel in die opheffing van hul geliefde Karoodorp.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article