GROOTFONTEIN Landboukollege se boogskietspan het onlangs aan ’n ABI-Shoot boogskiet liga-byeenkoms by die Zingela Klub op Jeffreysbaai deelgeneem en hulle goed van hul taak gekwyt.
Gure weersomstandighede het nie dié ywerige boogskutters weerhou van deelname aan die kompetisie nie. Inteendeel het Austin Adams gekwalifiseer vir sy WP-kleure in boogskiet.
Grootfontein se boogskietspan bestaan uit 12 lede. Die meeste van hulle het min of geen kennis oor boogskiet nie, maar word touwys gemaak deur hul afrigter en dosent, Rolf Herrmann, sowel as ander studente met boogskiet-ervaring.
Die landboustudente oefen in die middae op 3D teikens. Twee van hulle skiet met tradisionele lang-boë, terwyl die res van die span met kombinasie-boë skiet.




