CHRIS Brits, Cradock se bekende musikant en sanger, was onlangs in die Noord-Weste om musiekvideos op te neem.
Hy vertel dat Deon van der Merwe, die bekende kitaarspeler van Touch of Class, hom in opdrag van Arnold Coleské versoek het om 11 volledige musiekvideos op te neem.
Volgens Brits, maak dié videos deel uit van Coleské se bemarkingstrategie vir die reeds voltooide Boeremusiek is GROOT– album. Brits speel hierop konsertina en Van der Merwe kitaar.
Ses van die musiekvideos is tydens ’n bosbraai saam met ’n dansorkes op Dikhololo-wildreservaat naby Brits opgeneem.
Die gehoor was in ekstase oor Brits en Van der Merwe se nuwe gekombineerde boeremusiekstyl.
Die oorblywende vyf videos is by verskeie natuurtonele op die wildreservaat geskiet. Die Seewind bring Heimweë met strykinstrumente, pas perfek in as bonussnit op die album en is verfilm by ’n waterval in die agtergrond.
Johan van Rensburg van Noot vir Noot faam was deel van die opnames en is soos oudergewoonte agter die klawerbord te sien.
Van die snitte geniet reeds lugtyd op Die Strandloper Radio in Wes-Australië en word binnekort aan die Suid-Afrikaanse publiek bekendgestel op Kyk-Net Nou se kanaal 146 op Saterdagaande van 19:00 tot 23:00.
Coleské en Van der Merwe is besig met reëlings vir ’n vrystellingskonsert wat beplan word vir vroeg in 2020.




