DIE impak van die uitmergelende droogte in die Cradock-distrik wat nou al meer as vier jaar duur, is in-dringend bespreek by ’n onlangse vergadering van Cradock Distriks-landbou-unie (CDLU).
Die feit dat die vrugbare valleie van Samenkomst, Agtersneeuberg en Tarka geheel en al sonder besproeiingswater– en in baie gevalle sonder drinkwater vir mens en dier is, is ’n groot bron van kommer. Veeboere het hul kuddes tot op die been gesny in ’n poging om die beste diere aan die lewe te hou aangesien die veld geen meer voedsel het nie en boere alle vee moet voer.
“Selfs die besproeiingsboere van Mortimer en Visrivier moes dele van hul ontwikkelde besproeiingsgrond braak laat lê aangesien die waterkwotas nie meer genoeg is nie,” het Paul Collett, vise-voor- sitter gesê.
’n Groot bekommernis is ook dat baie boere hulle oortrokke fasiliteite en lenings tot so ’n mate moes opstoot dat hulle miskien nooit weer op hul voete sal kan kom nie. “Die moraal van boere en hul werkers was nog nooit so laag nie,” het Hilton Collett, die voorsitter gesê.
Die voorsitter kon boere tot ’n mate gerusstel deur bekend te maak dat CDLU 34 ton mielies uit ’n voorraad wat Vrystaat Koöperasie Beperk aan Agri Oos Kaap ge-skenk het, gaan ontvang. In die lig van die huidige droogte-toestande wat ernstige afmetings aangeneem het, het die vergadering daarna eenparig besluit om ook ’n bedrag van R100 000 uit CDLU se reserwefonds te onttrek en ’n verdere 34-ton mielies aan te koop vir ver-spreiding onder lede van CDLU in nood. Die mielies word volgende week op die dorp verwag.
Volgens Collett is Cradock Tafelronde en die oud-skolierebond van die Hoërskool Cradock ook besig om fondse vir droogtehulp in te samel.
“Ons by CDLU gaan ons uiterste bes doen om die hulp wat ontvang word so regverdig as moontlik te verdeel. Aangesien ons nie elke individuele boer se nood ken nie, gaan ons die skenkings so gelykop as moontlik onder lede van Agri Oos-Kaap, ons moederliggaam, verdeel en aan die voorsitters van die verskillende takke oordra,” het Hilton Collett gesê.
Hy het ’n beroep gedoen op boere wat kan om die inisiatief te ondersteun en ook op boereverenigings wat voel dat hulle nie hulp benodig nie, om uit die verdeling te onttrek.
CDLU bestaan uit voorsitters van die sewe individuele boere- verenigings in Cradock-distrik, naamlik Agtersneeuberg, Bo-Swaershoek, Bo-Vlekpoort, Vis-rivier, Mortimer, Samenkomste en Tarka.


