EEN van die vier verhoorafwagtendes wat verlede week uit polisie-aanhouding ontsnap het, het homself ’n dag later aan die polisie oorgegee.

Odwa Siqanqalala (28) het hom verlede Donderdag by die Whittlesea-polisiekantoor aangemeld, asook die vuurwapen ingehandig wat hy in die ontsnapping gesteel het.

Siqanqalala, Mzuvukile Mzimkulu (31), Lundi Mzimkulu (31) en Mbeko Stuurman (33) het verlede week ontsnap terwyl hulle van Whittlesea na die landdroshof in Komani (Queenstown) onderweg was.

Die groep het na bewering die polisiebeamptes oorrompel, twee vuurwapens gebuit en toe met die polisievoertuig gevlug. Die voertuig is later verlate naby Whittlesea aangetref.

Brig. Tembinkosi Kinana, provinsiale po-lisiewoordvoerder, sê Siqanqalala het homself oorgegee nadat hy besef het die kanse op ’n suksesvolle ontsnapping is beperk.

Die polisie het ook vir Mzuvukile Mzimkulu in die Sada-nedersetting in die Komani-distrik opgespoor en vasgetrek.

Stuurman en Lundi Mzimkulu was gisteroggend steeds op vrye voet.

Volgens die polisie staan Stuurman tereg op aanklagte van verkragting, terwyl Lundi op ’n aanklag van gewapende roof ten opsigte van ’n transitorooftog in Whittlesea in 2018 teregstaan.

Kinana sê die ondersoek na die ontsnapping duur voort.

Die polisie het weer ’n beroep op die gemeenskap gedoen om nie die verdagtes te probeer vastrek nie, aangesien hulle as ge-vaarlik en gewapen beskou word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article