Kankeroorwinnaars | Stryd tref haar in isolasie van pandemietyd – vandag bly sy uitreik, uit dankbaarheid

Die 70-jarige Minnie Burger, 'n kankeroorwinnaar.
Die 70-jarige Minnie Burger van Kroonstad het kanker tydens die Covid-19-pandemie oorwin. FOTO: Verskaf

KROONSTAD – Minnie Burger was verslae toe sy in Mei 2020, te midde van die Covid-19-pandemie, moes uitvind sy het borskanker.

“Ek het die een nag wakker geword met ‘n pyn in my regterbors; my bors was warm en geswel en ek het dadelik vermoed iets groots is fout. Op die plek het ek gebid en die Here gevra om my te dra en dat ek bereid is om ‘n dubbele mastektomie deur te maak, solank die Here my hierdeur sou lei,” sê Minnie (70).

Sy het ‘n afspraak by haar huisdokter, dr. Sonja Viljoen van Kroonstad, gereël. ‘n Sonar en mammogram is gedoen, en Viljoen het ook antibiotika voorgeskryf. ‘n Week later was daar nog geen verbetering nie.

Dit was baie uitdagende tye; niemand kon vrylik tydens die pandemie beweeg nie. – Minnie Burger

Minnie is terug dokter toe. Sy is na ‘n chirurg verwys, wat toe ‘n biopsie gedoen het.  Agt dae later het sy die skokkende nuus ontvang dat sy wel borskanker het.

“Ek was verslae, bang en baie emosioneel. Benewens die Covid-19-pandemie, waarin ons afgesonder van mekaar moes leef, moes ek die emosionele skok en trauma van borskanker trotseer.”

Minnie, ‘n ongetroude en afgetrede maatskaplike werker van Kroonstad, sê ondanks die feit dat sy die skokkende nuus op haar eie moes verwerk, was haar predikant, die Northern Free State Caregivers (NFSCG) se Felicity Combrinck en suster Jorina Heymans aan haar sy om die pad saam met haar te stap. 

Sy het ‘n mastektomie ondergaan en ‘n familielid het aangebied om haar ná die operasie tuis by te staan.

“Dit was baie uitdagende tye; niemand kon vrylik tydens die pandemie beweeg nie. Tog was ek dankbaar vir tegnologie en die ondersteuning deur middel van tegnologie van my familie en vriende wat nie naby gewoon het nie.”

Vriende het met inkopies en etes gehelp, asook wanneer sy vervoer benodig het.

Einde Julie 2020 het Minnie met chemoterapie begin en het in Januarie 2021 bestraling ontvang.

“Ek is baie dankbaar vir my onkoloog, dr. Thomas Erasmus, en ek kan nou met groot dankbaarheid sê my kanker is steeds in remissie.”

Minnie sê haar geloof het haar gedra. Sy het ook vinnig besef sy sal haar denke positief moet hou en dat sy elke dag voluit moet lewe.

Dit is vir haar baie belangrik om uit te reik na ander, en sy is aktief in haar gemeenskap betrokke. Die Presidentia-jeugsorgsentrum in Kroonstad lê haar na aan die hart.

Sy geniet dit om naaldwerk te doen en hekel trooskombersies wat deur die NFSCG aan kankerpasiënte versprei word.

“Daagliks gryp ek die geleentheid aan om die Here voluit te dien en op so ‘n manier ‘n positiewe verskil in mense se lewe te maak,” sê Minnie.

Dit is ook vir haar baie belangrik om haar familie en vriende te koester, en dat mense altyd tyd vir mekaar sal maak.

“Soos my geloof, hou my familie en vriende my staande en ek is dankbaar vir elkeen van hulle.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article