KROONSTAD. Die 71-jarige Annemie Delport van Kroonstad het kanker reeds twee keer stip in die oë gekyk − en oorwin.
Sy is die eerste keer in 1994 met tiroïedkanker, oftewel skildklierkanker, gediagnoseer. Dit nadat sy eendag op pad na ‘n skoolgeleentheid in die motor se kantspieëltjie ‘n knop so groot soos ‘n eier in haar nek opgemerk het.
“My kinders was klein, tussen nege en 14 jaar oud, toe ek uitvind dat ek tiroïedkanker het. Dit was sekerlik een van die grootste skokke van my lewe; ‘n baie moeilike tyd, en ek het werklik baie met die Here daaroor gestoei,” sê sy.
Tog sê Annemie haar geloof en haar gebede wat verhoor is, het haar staande gehou. Sy het in 1994 behandeling met radioaktiewe jodium in Bloemfontein ontvang, nadat die gewas verwyder is. Sy het toe goed herstel.
In Oktober 2018 is sy met borskanker gediagnoseer toe sy eendag ‘n verandering aan haar linkerbors opgemerk het. Dokters het die knop en limf-kliere verwyder, waarna sy 25 bestralingsessies ontvang het.
Voorkoming is beter as nasorg. ‘n Vroeë diagnose kan
die meeste van die tyd behandel word met ‘n positiewe uitkoms.
– Annemie Delport
“Ek was in 2018 emosioneel op ‘n beter plek as in 1994; die nuus dat ek tiroïedkanker gehad het, was vir my baie meer traumaties. Ek reken dit was omdat my kinders nog baie klein was. Ek het beslis die nuus van die borskanker baie beter hanteer, al was dit nie maklik nie.”
Annemie sê sy sou nie die kanker-episodes sonder ‘n goeie ondersteuningsnetwerk kon aanpak nie. Haar man, Jan Delport, destyds haar ouers en sibbe en in 2018 haar kinders, kleinkinders, familie en vriende het haar gedra.
“In 1994 was ek vir ses weke in afsondering in my eie huis, weens die radioaktiewe behandeling. Ek kon nie naby jong kinders, babas en swanger vroue kom nie. My bure het letterlik vir my gesin gesorg. Dit was absoluut een van die donkerste tye in my hele lewe, maar danksy my goeie ondersteuningsnetwerk was dit haalbaar en het ek kanker ‘n tweede keer oorwin.”
Annemie het onlangs goeie nuus ontvang toe haar onkoloog, dr. Brent Green van Bloemfontein, bevestig het dat die kanker steeds in remissie is.
“Dit is absoluut onbeskryflike genade waarvoor ek elke dag diep dankbaar is.”
Haar raad is: As enigiets kwel of nie reg voel nie, gaan dadelik dokter toe.
“Voorkoming is beter as nasorg. ‘n Vroeë diagnose kan die meeste van die tyd behandel word met ‘n positiewe uitkoms.”
‘n Positiewe ingesteldheid is vir haar van kardinale belang − asook haar geloof en vertroue in God, want dit hou haar steeds staande. Haar vrede kry sy immers in Filippense 4, en sy hou sedert 1994 daaraan vas.
■ Annemie en Jan woon op ‘n plaas tussen Kroonstad en Welkom en is al 47 jaar getroud. Die egpaar het vyf kinders.





