Geordin Hill-Lewis was die gasspreker by 'n sakeontbyt aangebied deur Radio Tygerberg. Foto: Cecilia Hume
Geordin Hill-Lewis was die gasspreker by ‘n sakeontbyt aangebied deur Radio Tygerberg. Foto: Cecilia Hume

Kaapse lugtrein nie finansieël haalbaar nie, sê Hill-Lewis

Geordin Hill-Lewis was die gasspreker by 'n sakeontbyt aangebied deur Radio Tygerberg. Foto: Cecilia Hume
Geordin Hill-Lewis was die gasspreker by ‘n sakeontbyt aangebied deur Radio Tygerberg. Foto: Cecilia Hume

DURBANVILLE – Planne soos die een vir ‘n Kaapstadse-lugtrein maak hom opgewonde, maar vir die Stad Kaapstad is dit een plan wat nie finansieël haalbaar is nie.

Só het Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad en federale leier van die DA, Woensdagoggend tydens ‘n sakeontbyt in Durbanville gesê.

Hill-Lewis was die gasspreker by die geleentheid, aangebied deur Radio Tygerberg by Bossa in die Groot Phesantekraal View-winkelsentrum. Hy het onder meer gepraat oor sy persoonlike motivering agter die “Stad van Hoop”, effektiewe regering as die enjin van groei, Kaapstad se rekord met werkskepping in vergelyking met die res van die land, bevolkingsgroei en besteding op infrastruktuur, veiligheid en misdaadbekamping, en hoe die Stad haweloosheid wettig maar met deernis aanvat.

In antwoord op ‘n vraag uit die gehoor oor sy opinie oor die voorstelling vir ‘n lugtrein, het Hill-Lewis dit duidelik gemaak dat dit nie ‘n amptelike plan deur die Stad Kaapstad is nie, maar ‘n voorstelling wat opgetrek is deur ‘n ingenieur wat in die Kaap woon, “ ‘n doodgewone inwoner wat baie tyd en moeite aan die ontwerp en konsep spandeer het,” sê hy.

Die Capetrain Express-Facebook-blad deel gereeld voorstelle van hoe 'n lugtrein in die Kaap kan lyk.
Die Capetrain Express-Facebook-blad deel gereeld voorstelle van hoe ‘n lugtrein en stasies daarvoor, soos hierdie voorstel vir ‘n stasie die Tygervallei-winkelsentrum, in die Kaap kan lyk. Foto: Capetrain Express

Hill-Lewis sê die Stad is nie teen die plan gekant nie. “Ons het doodeenvoudig net nie die geld daarvoor nie.”

Hill-Lewis het dit vergelyk met die koste van die bou van die Gautrain wat sowat 20 jaar gelede meer as R20 miljard beloop het. “In 2026 is dit seker al minstens R40 miljard.”

Volgens hom was ongeveer 75% tot 80% van die Gautrain se koste deur die nasionale regering befonds en die res deur die Gauteng-provinsiale regering.

Hy het gesê hoewel ‘n lugtrein dalk effe goedkoper sal wees omdat dit bogronds is en daar nie nodig is om tonnels te grawe nie, bly die befondsing daarvan buite die Stad se vermoë.

Hill-Lewis het gesê ‘n spoorprojek wat hy dink wel die lig gaan sien, is ‘n spoorlyn wat die nuwe beplande Cape Winelands-lughawe met die middestad verbind.

Hy sê die ontwikkelaars van die lughawe het reeds bekendgemaak dat hulle só ‘n spoorweg wil befonds. “En hulle het natuurlik die kapasiteit om genoegsame privaatbefondsing in te vorder.”

Hy voeg by die ontwikkelaars, dieselfde mense agter die Amazon-ontwikkeling, is die tipe mense wat nie wegskram weens druk en kontroversie nie. “Hulle is die tipe mense wat as hulle sê hulle doen ‘n ding, dan doen hulle dit.

“Dit is iets wat ons natuurlik ook sal ondersteun. Dit sal hierdie hele deel van die stad die volgende 20 tot 30 jaar absoluut laat floreer.”

Hill-Lewis het bygevoeg die Stad gaan binnekort die amptelike planne en ontwerpe om die bruë in die Foreshore te voltooi, bekendmaak. Hy sê hierdie uiters belangrike projek is op só ‘n manier beplan dat daar genoegsame spasie is vir ‘n toekomstige treinspoor.

“Natuurlik kan ons nie bekostig om die treinspoor te bou nie, maar teoreties, kom ons sê oor die volgende 10 jaar of so, kan ons ‘n spoorlyn hê vanaf hierdie nuwe lughawe na daardie lugtrein-konsep wat dit regdeur met die Waterfront en die middestad verbind,” het hy hoopvol gesê.

Hy het egter beklemtoon dat ernstige toewyding van die nasionale regering, soos die Gautrain gehad het, nodig sal wees om so ‘n projek die lig te laat sien.

LEES OOK: City distances itself from viral AI express rail concept for Cape Town

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article