Spesiale eerste spandrag is die afgelope naweek met ekstra trots en betekenis gedra.
Spesiale eerste spandrag is die afgelope naweek met ekstra trots en betekenis gedra.

“Ons speel vir julle”, Skool se roerende CANSA-veldtog


Harte wat klop vir méér as net wen, Hoërskool Jan van Riebeeck het die afgelope naweek sport met diens aan ander verenig in ‘n bewusmakingsveldtog wat bo net die wenkolom strek.

Die skool het hande met CANSA gevat in ‘n besondere inisiatief as deel van hul 100-jaargemeenskapsprojekte, en sodoende bewys dat sport se ware krag in die vermoë om gemeenskappete dien lê.

Meer as net ‘n trui

Die spanne het die naweek met ekstra trots en betekenis op die veld afgestap. Elke trui wat oor skouers getrek is, het ‘n boodskap gedra wat swaarder weeg as enige trofee, “Ons speel vir julle.”

Hierdie slagspreuk is opgedra aan elke persoon wat tans teen kanker veg, dié wat die stryd in die verlede gevoer het, en die oorwinnaars wat die siekte reeds verslaan het.

“Dit was baie emosioneel. ‘n Paar seuns het hulle truie oorhandig aan hulle Oumas en Oupas en so wat die stryd teen kanker veg . Die slagspreuk vir die naweek was ons speel vir julle,” het Abré van Heerden, hoof van sport by die skool, gesê.

Vrygewigheid wat grense oorskry

Suzuki het ‘n ruim borgskap aan die inisiatief geskenk, wat die skoolgemeenskap gehelp het om meer as R10 000 in te samel. Alle hekgelde, sowel as die spesiale eerste spandragte wat gedurende die naweek gedra is, is geskenk aan individue wat deur kanker geraak is.

Die bedrag verteenwoordig nie net finansiële steun nie, maar ‘n sigbare bewys van ‘n gemeenskap wat saamstaan wanneer dit die belangrikste is.

Sport se groter roeping

Hierdie naweek het Jan van Riebeeck gewys dat sport meer is as net ‘n wedstryd tussen twee spanne. Dit is ‘n platform vir verandering, ‘n geleentheid om mense se lewens te raak, en ‘n bewys dat sport se ware erfenis gemeet word in harte wat verander, nie net wedstryde wat gewen word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article