Die wenskole in vanjaar se Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks is van links Diamantveld (rugby) Oloff Bergh, van Hoërskool Sentraal (netbal) Tanya Kotze, Hoërskool Jim Fouché (seunshokkie en hokkie algeheel) Stefanie Frey en Bethlehem Voortrekker Hoëskool (meiseshokkie) Liezelle Whitehead. FOTO: Lientjie Mentz

Ná ‘n taai, hoogs mededingende Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks wat in Augustus tot ‘n einde gekom het, is die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein as algehele wenner gekroon.

Gesonde, mededingende en opwindende skolesport is die hooffokus van dié reeks, wat spog met die grootste massa-deelname in ‘n sportgebeurtenis in die wêreld. Sentraal spog ook met die netbalbeker vir 2025.

Tydens ‘n glansgeleendheid by die Hoërskool Sentraal op Maandag 25 Augustus, is ook aangekondig dat die Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein aangewys is as die wenner in die seunshokkie-afdeling asook die alghele wenner in hokkie.

Op die geselligheid Maandag 25 Augustus was die borge en direksielede van die Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks van links Rynhardt Smidt (UV), Henri Wilken (Hoërskool Jim Fouché), Ruan Botha (Skilltracer), Jeannine van Zyl (Novus Media Gemeenskapsnuus), Gys Coetzee (Bethlehem Voortrekker Hoërskool en uitvoerende direkteur van Wesgrow-reeks), Deon van Wyk (sporthoof: Hoërskool Sentraal), Charles Liversage (skoolhoof: Hoërskool Sentraal), Lacea Loader (UV), Dirk Pretorius (Wesgrow), Spoed Johan Smit (SuperSport), Francois de Kock (Hoërskool Diamantveld) en Neil de Klerk (VKB). FOTO: Lientjie Mentz


Agt hoërskole van oor die Vrystaat en Noord-Kaap heen het vanjaar meegeding.
Die afgelope seisoen het in Februarie begin en van die begin af was dit duidelik dat skole goed voorberei was vir strawwe kompetisie. Daar was natuurlik ‘n hele paar verrassings en sommige skole het gewys dat diepte in die reeks die septer sou swaai in elke afdeling.

Dit was duidelik dat daar hard gewerk is tydens die voorseisoen toe daar reeds met die eerste naweek van deelname gehaltespel gelewer is. Danksy die breë blootstelling wat die reeks aan leerlinge bied en betrokkenheid van getroue borgskappe, was dit ook lekker om twee leerlinge wat hul talente in die reeks geslyp het, op die internasionale verhoog te kon sien deelneem.

Fano Linde van die Bethlehem Voortrekker Hoërskool en Jacobus Grobbelaar van Hoërskool Fichardtpark kon as Wesgrow-alumni die o.20 rugby-wêreldbeker lig.
Gys Coetzee, skoolhoof van Voortrekker en voorsitter van die Wesgrow-reeks, sê dié twee se prestasie is ‘n bewys dat die sentrale streek van Suid-Afrika propvol talent is.

.

Die Hoërskool Diamantveld i Kimberley se o.19A-rugbyspan het die reeks as onoorwonne afgesluit en die beker gelig op ‘n uitstekende seisoen. Diamantveld was ook die alghele wenners van die rugby-afdeling.

Net so het die Hoërskool Jim Fouché die res van die skole streepsuiker gegee in die o.19A-seunshokkieafdeling terwyl Witteberg die o.19A-meisiesafdeling gewen het.
Die Hoërskool Sentraal het die kroon gespan op ‘n puik netbalseisoen deur die o.19A-netbalreeks te wen. Voortrekker het die afdeling vir meisieshokkie gewen.

Om die finale en algehele wenner van die reeks te bepaal, word prestasie van alle spanne vanaf o.14- tot en met die o.19-spanne in berekening gebring.

Tydens die glansryke prysuitdelingsgeleentheid is die wenners vir 2025 in elke afdeling aangewys:
“Dit is wonderlik om terug te kyk na ‘n seisoen vol aksie. Hoewel sommige spanne se seisoene met meer uitdagings gepaard gegaan het, was dit wel ‘n belewenis om die deelname tussen skole te sien en die kameraderie van spansport te aanskou,” sê Coetzee.

Daar het sowat 429 leerlinge per skool op naweke deelgeneem. Tydens die toernooi is 28 interskool-naweke beslis – sewe per skool. In totaal het 96 hokkiespanne, 112 netbalspane en 72 rugbyspanne aan die reeks deelgeneem.

“Dankie aan elke speler, afrigter en ouer van elke skool wat die reeks ondersteun en jul skole met trots verteenwoordig het. Sport as aktiwiteit dra ‘n belangrike aspek by tot die volle ontwikkeling van ‘n kind. Hierdie unieke reeks lok meer en meer belangstelling en met die betrokkenheid van VKB as mede-borg bestaan daar ook die moontlikheid dat daar ‘n plattelandse afdeling kan uitkring in die toekoms. Vele skole het reeds hieroor navraag gerig,” sê Coetzee.
“Ons sien met opgewondenheid uit na die toekoms en is dankbaar vir almal wat hierdie gesogte reeks ‘n werklikheid maak vir elke leerling.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article