Iets wat inwoners van Velddrif lank gevrees het, het ‘n werklikheid geword: dat iemand gaan seerkry op die verwaarloosde kaaie in en om die Bergrivier.

Die verdrinking van die 13-jarige Roscoe Erasmus by die Rooibaai-kaai op Vrydag 26 September in Laaiplek, Vredenburg, het groot hartseer vir baie mense gebring.
Volgens die inligting wat sy ma, Abigail Erasmus, ontvang het, het Roscoe vermoedelik op die houtkaai gegly, wat tot sy verdrinking gelei het.
Die vraag onder inwoners is egter wie verantwoordelik is vir die instandhouding van die kaai, wat al jare lank in ‘n slegte toestand is, en hoe lank voor die volgende ernstige voorval voordat aksie geneem gaan word?
Volgens een inwoner is dit algemeen bekend dat die Rooibaai-kaai as ‘n toeriste-aantreklikheid bemark word, maar dit is nie veilig vir besoekers of inwoners nie. Dié inwoner meen daar word al jare na die Bergrivier-munisipaliteit uitgereik om in te tree, maar tot op datum is nog geen vordering gemaak nie.
Inwoners het ook al hul eie inisiatiewe met die munisipaliteit gedeel en hul eie hulpbronne en tyd beskikbaar gestel om die kaai weer in ‘n bruikbare toestand te kry, maar geen aksie is blykbaar van die munisipaliteit se kant af geneem nie.
Matthew Sheldon, ‘n woordvoerder vir die Bergrivier-munisipaliteit, sê die munisipaliteit dra sy diepste meegevoel aan die familie en geliefdes oor wat deur die tragiese verdrinkingsvoorval geraak is.
Hy voeg by die munisipaliteit is bewus van die gemeenskap se kommer rakende die toestand van die Rooibaai-kaai.
“Die Rooibaai-kaai is deur die Nasionale Departement van Openbare Werke opgerig en is later in ‘n baie vervalle toestand aan die Bergrivier-munisipaliteit oorgedra. Geen spesifieke geld is binne die munisipale begroting vir die instandhouding of opknapping van die Rooibaai-kaai toegeken nie. Die munisipaliteit onderneem algemene inspeksies van sy openbare infrastruktuur en prioritiseer herstel- werk of instandhoudingswerk gegrond op veiligheidsassesserings, beskikbare hulpbronne en die goedgekeurde begroting.”
Sheldon voeg by die munisipaliteit waardeer die bereidwilligheid van plaaslike inwoners, wat hul eie hulpbronne tot die instandhouding van die Rooibaai-kaai wil bydra. “Inwoners het die munisipaliteit met ‘n voorstel genader en hul versoek is deur die direkteure goedgekeur.
‘n Aanbeveling is aan die uitvoerende burgemeesterskomitee voorgelê, wat vandeesmaand oorweeg sal word. Die munisipaliteit verwelkom gemeenskapsvennootskappe van hierdie aard, mits aan alle nodige wetlike, omgewings- en veiligheidsvereistes voldoen word voordat enige herstel- of konstruksiewerk kan begin.”
Die inwoner meen nie veel word gevra nie – net dat die kaai so gou as moontlik beveilig word. “Tot nou en selfs ná die verdrinking is nog geen maatreëls ingestel nie en die munisipaliteit moet verantwoordelikheid neem.”






You must be logged in to post a comment.