Al het hulle deur moeilike tye gegaan met die September 2023-oorstromings en die Hemel-en-Aarde-pad wat lank gesluit was, het die Bouchard Finlayson-wynkelder karakter getoon en steeds sy kop omhoog gehou.
Tydens verlede Maandag (29 Julie) se dankie-sê-aand vir sy klante en kliënte het dié bekroonde wynplaas in die Hemel-en-Aarde-vallei genoem hy is dankbaar vir die restaurante en ander sakeondernemings in Hermanus wat uit hul pad gegaan het om hulle tydens hierdie moeilike tye te ondersteun.
“Ons het die haas uit die hoed getrek en wynproeë by verskillende persele in die dorp gehou. Baie dankie vir jul ondersteuning en die gebruik van jul persele in dié moeilike tyd,” het Roelf du Plooy, hoof- en finansiële bestuurder van Bouchard Finlayson, gesê.
Volgens hom was dit baie uitdagende tye en het die baie reën die afgelope tyd ’n groot invloed op hul wyne gehad.
“Ons het egter kop bo water gehou en ondanks al die elemente wat teen ons was, het ons steeds uitstekende wyn opgelewer – dalk nie in so groot mate soos verlede jaar nie, maar die gehalte is definitief van die beste,” sê die wynmaker, Chris Albrecht.
Die gaste is met hul aankoms op ’n koue Maandagaand met ’n glas wyn en vioolmusiek ontvang. Na ’n kort wynproesessie waar Albrecht die verskillende kultivars verduidelik het, het die gaste heerlik in die private kelder van die herehuis gekuier.
“Dit is al ’n jaarlikse instelling waar ons ons gereelde klante bedank vir hul ondersteuning en ons raak naderhand soos familie,” het Danel Theron gesê.




