Brande is ‘n werklikheid en baie mense het teruggedink aan die Bettysbaai-brande in 2019 en in 2024 wat nie net lewens gekos het nie, maar ook mense se huise in puin gelê het.
Die afgelope maande se brande waarin Panthera Africa Big Cat Sanctuary by Stanford ook in die slag gebly het, het die fokus op die wilde diere geplaas wat ook in die verwoestende brande beseer is.
CapeNature het ‘n beroep op inwoners gedoen om verantwoordelik en ingevolge die wet op te tree as hulle in kontak kom met wilde diere wat in brande beseer is. “Ons moet onthou dat ons unieke fynbos-ekostelsel by brande aanpas en dit is ‘n natuurlike en noodsaaklike ekologiese proses vir fynbos. Sonder brande sou hierdie plante eenvoudig oud word, ophou voortplant en doodgaan. Selfs die diere pas aan in die brande, skilpaaie grawe diep in die grond as hulle rook ruik en die Kaapse dwergverkleurmannetjie teel ook vinniger aan ná brande,” het ‘n woordvoerder van CapeNature gesê. “Mense moet ook nie die wilde diere onnodig verwyder, vang of voed nie. Al lyk baie van die diere gedisoriënteer, herstel hulle tog en onnodige hantering kan tot verdere stres lei.”
Hulle beklemtoon ook dat as jy op beseerde of verwilderde diere afkom, jy dadelik kenners in kennis moet stel sodat hulle verder met die dier kan werk.Wat moet jy doen?
• Hou ‘n afstand tussen jou en die dier;
• As die dier nie in direkte gevaar is nie, moet hom nie verwyder nie;
• Kyk na die dier se ligging sodat jy vir die nodige amptenare die presiese ligging kan gee;
• Meld die voorval dadelik aan by
087 087 3841 / 071 999 5348.





