Louise Pyper, Marionne Olivier en Marlene Duminy het pret gehad om in die Bedoeïne-burkas te poseer. Mitzi Buys (tweede van links) is in tradisionele Bedoeïne-drag geklee.


Elke eerste Donderdag van die maand vergader die Caledon-tak van die Vrouelandbouvereniging (VLV) in die NG kerksaal van die Caledon-Wes-gemeente.

By hierdie byeenkomste word die sakelys asook verskillende projekte bespreek en daar is gewoonlik ’n gasspreker of praktiese demonstrasie om by die maand se tema te pas.

September se tema was “Opvoeding en kultuur” en Hermanus Times se Caledon-korrespondent, Mitzi Buys, wat 20 jaar in Egipte gewoon het, is genooi om haar ervarings te deel. Lede en gaste is Donderdag (5 September) op ’n “toer” deur Kaïro, die Sinaï-woestyn en die Sint Katerien-klooster geneem.

Omdat handwerk en kos ’n groot deel van VLV-bedrywighede is, het Mitzi baie voorbeelde van Egiptiese asook Bedoeïne handgemaakte artikels gebring om te wys.

Een van die artikels wat groot aftrek gekry het, was die antieke tradisionele Bedoeïne-tjalie vol blinkers wat uitsluitlik by troues gebruik word.

Corrie Fogwell, voorsitter van die Caldon-tak, sê: “Ek het die vroue lanklaas so opgewonde gesien oor ’n aanbieding. Ons het veral die borduurwerk en materiale geniet; dit was so reg in ons kraal. Dit was ook vir ons baie interessant om van die tradisies en die kos te hoor. Ons sou nooit die blootstelling hieraan gekry het as Mitzi nie vir ons daarvan kom vertel het nie.”

Elbie Fourie, die Overberg-sirkelpresident, het ook die byeenkoms bygewoon en die lede toegespreek asook die trofeë wat tydens die VLV-Kaapland se kongres op 15 en 16 Augustus in Bellville verower is, oorhandig.

Die Caledon-tak het weer gewoeker en vier trofeë gewen.

Die Overberg-trofee vir leefstyl en kuns en handvlyt en die leefstyl-trofee is sirkeltrofeë wat by die Caledon-tak vir ’n jaar “kuier’.

Gertruida du Buisson het ’n derde plek vir skryfwerk gewen met ’n eenbedryf waarvoor sy 96% behaal het.

Die Caledon-tak het ook ’n trofee ontvang vir die tak wat die meeste leefstylpunte by die kongres gehad het.

Tydens die byeenkoms is Gertruida as ondervoorsitter gekies nadat Retha Skein uit die pos bedank het. Retha bly nog aktief by die VLV betrokke en is veral besig met beoordeling van produkte.

Bel Corrie Fogwell by 083 270 8374 vir verdere inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article