Twee lede van Caledon se Vrouelandbouvereniging-tak het onlangs baie goed by die Kaaplandse kongreskompetisie presteer.
Corrie Fogwell en Marlene Duminy het eers aan die Overberg-kompetisie deelgeneem, waarna die deelnemers in die eerste drie plekke aan die kongreskompetisie deelgeneem het.
Daar het Corrie die tweede plek in die Leefstyl-wisselafdeling behaal vir ’n interessante drasak wat van dasse gemaak is. Marlene het met haar eerste probeerslag om te weef ’n derde plek in die Leefstyl-weefwerk behaal. Haar weefstuk word nou vir ’n jaar in die VLV-huis in Stellenbosch tentoongestel.
Die lede vergader een keer per maand om nie net agenda-sake te bespreek nie, maar ook na interessante gassprekers te luister.
Clara Barthus en Beulah Reeler was in die September-byeenkoms die gassprekers.
Clara is ’n gemeenskapsleier wat veral onder die jeug werk en is betrokke by kinderveiligheid, pleegsorg en leesprogramme vir kinders. Sy is ook ’n lid van die polisieforum.
Beulah het vertel van die Waldorf-skole se metodiek en hoe kuns die daaglikse bestaan beïnvloed.




