Die maandelikse byeenkomste van die Caledon-tak van die Vrouelandbouvereniging (VLV) is altyd interessant en opvoedkundig.

Petro van Rooyen van die Kwilt-den in Riviersonderend het die lede gewys hoe om kwiltblokkies te maak. Elke lid het twee blokkies materiaal gekry wat hulle onder Petro se bekwame instruksies aanmekaar moes werk. Een van die baie praktiese wenke wat Petro gedeel het, was ’n maklike manier om gare deur ’n naald se oog te kry – iets waarmee baie mense maar alte dikwels sukkel.

Die oplossing was maklik – in plaas van die naald vas te hou en die gare deur die ogie te probeer druk, hou die gare tussen jou duim en wysvinger vas en druk die naald se ogie van bo af op die gare.

Van die lede gaan ook gereeld vir kwiltlesse by Petro in Riviersonderend.

Die sakelys en verskillende projekte is op die byeenkoms bespreek en verskeie kompetisie-items is deur Retha Skein beoordeel.

Voor die aanvang van die byeenkoms het lede en gaste gesellig verkeer en heerlik gesmul aan sop, tuisgebakte brood en appeltert.

Die Caledon-tak van die VLV vergader elke eerste Donderdag van die maand in die NG kerk-wes se saal.

Bel Corrie Fogwell by 083 270 8374 vir verdere inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article