Die Heidehof Tehuis vir Bejaardes het op 11 Junie met ’n Dankie-sê-ontbyt spesiale erkenning aan skenkers en vrywilligers gegee.
Esther Möller, Heidehof se bestuurder, sê: “Heidehof, as rolspeler in Caledon asook die groter Theewaterskloof-streek, is afhanklik van die omgee van die gemeenskap ten einde volhoubare dienste aan ouer mense te lewer.
“Sonder die finansiële ondersteuning van plaaslike ondernemings en vrywilligers se hulp en gratis dienste, is daar geen manier wat personeel alleen die mas kan opkom nie,” sê Möller.
Möller het spesiale erkenning gegee aan die lede van Caledon-dameskring, onder leiding van Fana de Wet, asook die borge van hul verfraaiingsprojek, wat veral die voorportaal, eetsaal, sitkamers en ander gemeenskaplike ruimtes verfris het.
Al die vrywilligers wat betrokke is by aktiwiteite en terapeutiese programme wat aangebied word en hulp verleen met geldinsamelingsprojekte, is ook hartlik bedank.
“Heidehof is nederig dankbaar vir die tyd en opoffering wat soveel mense elke dag aan Heidehof en sy inwoners gee,” sê Möller.
’n Boom van Goedheid en Guns waar groter borge en skenkers verewig word, is spesiaal deur Lente Maré gemaak en in die voorportaal aangebring.





