Die polisie se daadwerklike optrede ná ’n wenk rakende ’n voertuig wat vermoedelik ’n groot besending dwelms vervoer, het vrugte afgewerp toe polisielede vier verdagtes weens die besit van 400 Mandrax-tablette in hegtenis geneem het.
Sers. Abigail Naidoo, ’n woordvoerder vir die polisie in die Overberg-distrik, sê beamptes van die Bredasdorp-polisie het die wit Mercedes-Benz A170 met ’n CA-registrasienommer, wat van Kaapstad se rigting gereis het, voorgekeer het.
By nadere ondersoek het die beamptes 400 mandrax-tablette in ’n plastieksak binne-in die ruimte waar die noodwiel gestoor word, gevind.
“Die vier insittendes – drie mans en ’n 35-jarige vrou – is op aanklag van dwelmhandel in hegtenis geneem. Die polisie het ook beslag gelê op ’n groot hoeveelheid geld sowel as ’n onbekende pienk en pers poeier wat in koerantpapier toegedraai was en in die vrou se handsak versteek was,” het Naidoo berig.
“Die drie mans, onderskeidelik 39, 40 en 28 jaar oud, en die 35-jarige vrou sal binnekort in die hof verskyn,” het Naidoo gesê.





