Die Bredasdorp-polisie het by een perseel op dwelms van byna R30 000 beslag gelê.


Samewerking tussen die gemeenskap en die polisie het daartoe gelei dat die polisie van Bredasdorp verlede week op groot hoeveelhede dwelms beslag gelê en verskeie verdagtes in hegtenis geneem het.

Lt.kol. Gustav Tamboer, die bevelvoer­der van die Bredasdorp-polisiekantoor, sê beamptes wat Donderdag 13 April op nagskof aan diens was, het inligting opgevolg rakende dwelms wat by ’n huis in Millpark gestoor is.

“ ’n Lasbrief om die perseel te deursoek is bekom en die lede het op die perseel toegeslaan en op Mandrax-tablette ter waarde van R17 300 sowel as tik met ’n geraamde waarde van R12 000 beslag gelê. Twee verdagtes is in hegtenis geneem en het reeds in die Bredasdorp-landdroshof verskyn,” het Tamboer gesê.

Nóg drie verdagtes is dieselfde aand in hegtenis geneem toe lede van die Bredasdorp-dwelmtaakspan in samewerking met die Taktiese-reaksie taakspan (TRT) van Kaapstad op ’n beweerde dwelmsmokkelhuis in Ou Meulstraat toegeslaan het.

Volgens Tamboer het die polisiebeamptes ’n lasbrief gehad om die perseel te deursoek. By dié adres het die polisie beslag gelê op Mandrax-tablette ter waarde van ongeveer R2 000, byna R3 000 in kontant en vermoedelik-gesteelde goedere ter waarde van ongeveer R35 000.

Die drie verdagtes het op aanklagte van die besit van dwelms en die besit van vermoedelik gesteelde goedere in die Bredasdorp-landdroshof verskyn.

“Ons wil mense wat onwettig drank sowel as dwelms verkoop, waarsku om dit stop te sit. Dit vernietig ons jeug en gee aanleiding tot geslagsgebaseerde geweld (GBV) sowel as ander ernstige misdade. Moet asseblief ook nie gesteelde goedere koop nie, aangesien dit ook ’n oortreding is,” het Tamboer gewaarsku.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article