Die oudste motor op die motorskou is die 1912 Model-T Ford met sy koper-kopligte.


Wat is die jaarlikse Walvisfees sonder die veteraan-motorskou wat jaarliks by die Sandbaai-saal aangebied word?

Volgens die organiseerders is die inskrywings vanjaar baie goed met ’n groot verskeidenheid van voertuie.

“Inskrywings kom so ver soos van die Weskus tot Stilbaai en omtrent al die dorpies in die Overberg. Die oudste motor is die 1912 Model-T Ford met sy koper-kopligte, ’n hotrod en ’n paar trekkers,” het Roy Groenewald, die organiseerder gese.

Volgens hom is daar ook motors wat die jaar nog by die ewenaar gedraai het en Jeeps wat die Namibiese duine aangedurf het. “As jy Stanley de Witt van Ladismith se storie ken, veral van Stanley se koei wat in een van David Kramer se liedjies vertel word, kan jy uitsien na die motorskou, want sy motor sal ook daar uitgestal word,” het Roy gesê.

Daar gaan nie net motors te sien wees nie, maar daar is ook iets om jou hongerpyne te stil. Van ’n snoekbraai deur Sandbaai-buurtwag tot boereworsrolletjies deur Hermanus-buurtwag en moenie die pannekoek en hamburgers vergeet nie. Die hekke vir die motorskou open Saterdag 28 September om 09:00 en dit kos R20 per volwassene, vir kinders onder 12 jaar is toegang gratis. Die skou hou tot 15:00 aan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article