’n Provinsiale verkeersbeampte is in die been geskiet toe hy ’n minibus vol vermeende rowers in Grabouw voorgekeer het.

Die bestuurder van die voertuig is op aanklagte van poging tot moord en die besit van vermoedelik gesteelde goedere in hegtenis geneem.

Owerhede het op die voertuig sowel as gesteelde goedere, glimbaadjies en polisie-uniforms wat in die minibus gevind is, beslag gelê.

Die bestuurder en sy makkers, wat op die vlug geslaan het en steeds op vrye voet is, het volgens berigte in die rigting van Kaapstad gereis nadat hulle na bewering ’n winkel in Botrivier beroof het.

Kol. Joe Hartnick, hoof van die Caledon-polisie se speurtak wat die rooftog in Botrivier ondersoek, het bevestig die insittendes van die minibus het ’n winkel in Botrivier na bewering Sondag 18 Junie omstreeks 19:00 beroof.

“ ’n Aantal verdagtes was by die rooftog betrokke. Twee het in die winkel ingegaan onder die voorwendsel dat hulle lugtyd wou koop. Die res het daarna ingekom.

“Hulle het na bewering die twee werknemers na die agterkant van die winkel gevat en hulle vasgebind. Drie selfone, die lugtyd-masjien en sigarette – met ’n geskatte gekombineerde waarde van R63 000 – is gebuit.”

Volgens bronne was van die rowers na bewering in polisie-sweetpakke geklee, terwyl ander glimbaadjies aangehad het waarop die woorde “Law Enforcement” gedruk was.

Kol. André Traut, die provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig ’n 37-jarige verdagte is in verband met die skietvoorval, waarin die 27-jarige verkeersbeampte gewond is, in hegtenis geneem.

“Volgens die polisieverslag is die taxi in Ou Kaapseweg, Grabouw, vir ’n spoedoortreding voorgekeer toe sewe insittendes uitgespring en die verkeersbeampte geskiet het. Hulle het te voet van die toneel af gevlug, maar die bestuurder is in hegtenis geneem. Verdere ondersoeke dui daarop dat die verdagtes moontlik dieselfde dag by ’n rooftog by ’n winkel in Botrivier betrokke was.

“Die omstandighede rakende die poging tot moord en die rooftog by ’n sakeperseel word ondersoek. Die vuurwapen wat in die poging tot moord gebruik is, is nie gevind nie, maar die polisie het op polisie-uniforms in die taxi beslag gelê.”

Die bestuurder van die taxi het op aanklagte van poging tot moord en die besit van vermoedelik gesteelde goedere in die hof verskyn. Sewe van die verdagtes word nog gesoek.

Die provinsiale minister van mobiliteit, Ricardo McKenzie, het die beampte ’n spoedige herstel toegewens.

“Ons verkeersbeamptes werk ongelooflik hard om motoriste en ander padgebruikers se veiligheid te verseker. Ek wil van hierdie geleentheid gebruik maak om hierdie mans en vroue vir hul toegewydheid te bedank en hulle te prys vir die resultate wat hulle behaal,” het hy bygevoeg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article