Rick Marais saam met “Oom Vrug”, wie se storie ook in die bundel kortverhale opgeneem is. Foto: Bianca Du Plessis


Geloof, hoop en liefde is emosies wat die lewe die moeite werd maak en jou inspireer om moed te hou en aan te hou wanneer die lewe se storms rof raak.

Dit is ook die titel van die bekroonde joernalis Rick Marais se eerste boek wat onlangs deur Naledi-uitgewers gepubliseer is. Die titel is gepas, want in hierdie bundel van Marais se gewildste en roerendste rubrieke staan hierdie emosies soos ’n rots uit.

Julian Jansen, die bekende koerantman en skrywer van die boeke Die De Zalze-moorde, Moord op Stellenbosch en Seuns sonder pa’s, som Marais se boek perfek op wanneer hy skryf: “Dekades van nou sal die bundel ’n historiese beeld kan gee van hoe gemeenskappe in lief en leed geleef het.”

Marais, wat voorheen ’n joernalis by die Hermanus Times was, skryf met empatie en insig oor mense wat hy teëkom. Die beelde wat hy met woorde skets, sal die leser van die eerste tot die laaste bladsy boei. Die stories sal jou by tye diep laat dink oor die wel en wee van sy onderwerpe, by tye aan ’n knop in die keel sal laat sluk of jou laat glimlag en besef hoe bevoorreg jy regtig is.

Hy vertel van ’n ma se pyn en verlange nadat sy haar seun verloor het, van kattekwaad wat hy saam met sy broer aangevang het, mense wat hy op sy lewenspad teëgekom het en alledaagse gebeure wat ’n indruk op hom gemaak het. Die ervare joernalis se beskrywings is so haarfyn dat jy in jou geestesoog die mense en dinge kan sien waaroor hy skryf.

Hy sê: “Ek loop al jare met die idee van ’n boek in my kop rond, maar ek het nooit geweet waaroor om te skryf nie. Sien, dis makliker om te skryf as dit nie jou beroep is nie. Ek skryf vir ’n lewe. Ek is ’n joernalis. Ek het lank gedink oor wat om oor te skryf, en toe kom ek agter dat ek elke dag oor mense skryf. Ek gee verslag oor hul lewe.

“Die boek se titel is Geloof, hoop en liefde. Soos in 1 Korinthiërs 13:13 staan: ‘En nou bly geloof, hoop en liefde – hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde’. Die liefde is belangrik, maar net so is hoop en geloof.

“Blaai jy deur die blaaie van my boek, dan sal jy Auntie Margie se storie lees en dan kom jy agter liefde en verlange speel ’n rol.

“Skryf ek oor my eerste ervaring met ’n koesister of vertel die verhaal van ’n jong vrou wat amper vermoor is en amper haar kind verloor het – albei het ’n tikkie van geloof, hoop en liefde in.

“Skryf ek oor my babadogtertjie of die kattekwaad wat ek saam met my broer aangejaag het, dan kom ’n mens weer in aanraking met liefde, geloof en – ja – hoop ook. En ek kry ’n brief van my pa wat maak dat ek hom ’n bietjie beter verstaan. Geloof, hoop en liefde kyk ook na Oscar Pistorius en die Covid-19-pandemie.”

Trisa Hugo, ’n bekende skrywer van Kleinmond wat die boekbespreking tydens Saterdag se bekendstelling gelei het, het veral die deernis waarmee Marais sy karakters beskryf, geloof.

“Jy moet gewis lewenswysheid hê om dié tipe stories te skryf,” het sy bygevoeg.

In sy boek span Marais die lyn fyn tussen geloof, hoop en liefde en vertel hoe dit op verskillende maniere in elke mens wie se storie hy vertel, sigbaar is.

“Sluk jou koppie koffie en kom reis saam met my deur Suid-Afrika waar ek praat met iemand van hier en iemand van daar. Geloof, hoop en liefde is deel van ons almal. Dis wie ons is. Kom lees saam; kom leef saam,” nooi hy almal.

Geloof, hoop en liefde is by Naledi se aanlyn boekwinkel (https://naledi.co.za/product/geloof-hoop-en-liefde/) sowel as jou naaste Bargain Books of Exclusive Books beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article