Die nuwe Theewaterskloof-munisipale hof in Grabouw gaan wet en orde in die omgewing toepas.


Die nuwe Theewaterskloof-munisipale hof het verlede week sy eerste sitting met onder andere ’n landdros en aanklaer in Grabouw gehou.

Volgens die TWK-munisipale bestuurder Wilfred Solomons-Johannes is die nuwe hof noodsaaklik aangesien die munisipaliteit wetstoepassing baie ernstig opneem en die munisipale hof die las op algemene howe gaan verlig.

“Dit is ’n belangrike mylpaal in ons reis na verbeterde wetstoepassing en gemeenskapsveiligheid,” het hy gesê. “Die stigting van die Theewaterskloof-munisipale hof was ’n voorkeur op die munisipaliteit se sakelys.”

Volgens hom is meer as 10 000 boetes van Julie tot Desember 2023 deur verkeers- en wetstoepassers van Theewaterskloof en ander beamptes soos die provinsiale verkeersbeamptes uitgereik.

“Die howe kon nie meer die hoë volume onbetaalde boetes, wat sedert Desember opgehoop het, hanteer nie, wat ’n munisipale hof in die streek genoodsaak het,” het hy gesê.

Hy sê ook die nuwe hof gaan nie net verkeersboetes hanteer nie, maar ook oortredings wat met munisipale regulasies te doen het.

“Die munisipaliteit verbind hom daartoe om reg en orde af te dwing sodat veiligheid in die TWK-munisipale gebied gehandhaaf kan word,” het hy beklemtoon.

Hy moedig ook mense aan om hul boetes van Maandae tot Donderdae van 08:00-16:00 en op Vrydae tussen 08:00 en 14:30 by die hof te gaan betaal.

Volgens hom is die plaaslike regering se doelwit om veiligheid en welstand vir alle inwoners en besoekers te verseker.

“Behoorlike wetstoepassing – veral op gebiede soos verkeersoortredings en oortredings rakende munisipale regulasies – is noodsaaklik vir die bereiking van ’n veilige en gesonde omgewing,” het Solomons-Johannes bygevoeg.

Die Theewaterskloof-munisipale hof sal ook kwessies dek wat verband hou met onwettige bouery en die oortreding van bouregulasies. “Die munisipaliteit waardeer die ondersteuning van nasionale en provinsiale regerings om ons kapasiteit te versterk om plaaslike sake doeltreffend te bestuur. Hierdie hof sal as ’n model dien vir doeltreffende dienslewering, ondersteuning en verbetering van die toepassing van munisipale regulasies.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article