“Ek het so groot geskrik, ek het my naam vergeet.”
Dit was Mary Brown van Bosstraat in Hawston se reaksie nadat sy in 2022 op ’n reusepofadder in die braaiplek buite haar huis afgekom het. By ’n ander geleentheid het sy ’n massiewe slang langs die toilet gewaar toe sy dit wou gebruik.
In die mees onlangse voorval het haar hond byna op ’n pofadder getrap wat ongesiens by haar huis ingeseil het. Die afgelope ruk, vertel sy, gewaar hulle al hoe meer slange naby of op hul eiendom.
“Die weer raak nou warmer en al meer slange kom uit. Ek weet nie hoe hulle by die huis inkom nie, maar ek is al so bang dat ek saans die beddegoed eers oplig voordat ek inkruip. Ek het ’n massiewe hartaanval gehad en ek is net bang dat ek nog een kan hê as ek groot skrik vir ’n slang. My grootste vrees is dat ’n slang my kinders of honde kan pik.”
Die feit dat Suid-Afrika tans ’n ernstige tekort aan slang-teengif ervaar, is rede tot groot kommer.
Netwerk24 berig dat SA Entstofprodusente (SAVP) oor geen voorraad beskik nie.
“Die meeste groot hospitale in hoërisikogebiede het teengif, maar het dikwels heeltemal te min in voorraad,” sê Johan Marais, hoof van die Afrika-slangbytinstituut.
gevaar
Mary vermoed die slange broei in die digte bosse in die ou begraafplaas langs haar huis en sê sy het die Overstrand-munisipaliteit (OM) by verskeie geleenthede versoek om die gebied skoon te maak.
Dean O’Neill, die munisipale bestuurder, bevestig dit en sê: “Ons neem kennis van mev. Brown se versoek en het reeds met haar gekommunikeer dat die gebied rondom die begraafplaas skoongemaak sal word. Die feit dat ’n digte melkhoutbos aan haar erf grens, bemoeilik egter sake aangesien dit ’n beskermde boomspesie is.”
Die OM waarsku inwoners om op hul hoede vir slange te wees aangesien die slangseisoen aangebreek het.
“Van Oktober tot April kom slange al meer voor en is die gevaar van slangbyt aansienlik hoër. Hoewel slange oor die algemeen nie aggressief is nie en slegs sal pik as hulle bedreig word, is dit wys om ’n slang te vermy indien jy een gewaar,” waarsku hy.
O’Neill wys egter uit dat die meeste slange in Suid-Afrika skadeloos is en ’n positiewe rol in die ekostelsel vervul.
Jonathan Powers, ’n bekende slangvanger in die Hermanus-omgewing, sê die vier algemeenste giftige slangspesies wat in die Overberg voorkom, is pofadders, die Kaapse kobra, die boomslang en die rinkhals. [Die rinkhals is egter nie so algemeen nie.]
Kaapse kobras se gif is neuro-toksies – dit tas die senustelsel aan en is lewensbedreigend. Simptome soos moeilike asemhaling ontwikkel binne 30 minute tot vier ure. ’n Pofadder se gif is sito-toksies – dit tas die weefsel aan en is ook lewensbedreigend. Simptome neem langer om te ontwikkel, gewoonlik van ses tot 24 ure.
Van die wenke wat kundiges gee, sluit in om die slangbyt-pasiënt gerus te stel en gemaklik te maak en so gou as moontlik by ’n hospitaal of kliniek te kry aangesien teengif slegs deur opgeleide mediese personeel toegedien mag word. Skakel die hospitaal en laat hulle weet ’n slangbyt-pasiënt is op pad. Probeer om ’n goeie beskrywing van die slang te kry en moenie die bytplek suig of ’n toerniket gebruik nie.
. Kontak jou naaste hospitaal of kliniek of die Wes-Kaapse gif-inligting hulplyn by 0861 555 777 in geval van nood.





